On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Jong ma van Sasolburg veg om lewe ná herhaalde kankerdiagnose

───   HEIDRÈ MALGAS 11:59 Wed, 04 Dec 2024

Jong ma van Sasolburg veg om lewe ná herhaalde kankerdiagnose | News Article
Leukemia is in Junie verlede jaar by Leh-André gediagnoseer. Foto Vaalweekblad

’n Ma van Sasolburg is besig om haar sig te verloor en kan nie meer kankerbehandeling kry nie.

Leh-André Jansen van Vuuren (31) veg om haar lewe in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein nadat leukemie verlede jaar by haar gediagnoseer is.

Tydens ’n opvolgbesoek op 11 November, nadat sy gemeen het sy herstel goed, het dokters weer kanker by haar waargeneem. Twee dae later is sy in Universitas opgeneem.

“Sy kan nie meer behandeling kry nie,” sê haar stiefma, Claudette Gouws, “want haar dokters sê dit is te gevaarlik. Haar hare het begin uitval, sy is op suurstof en sy het baie pyn.”

Leh-André Jansen van Vuuren met haar haar man Devan en seuns, Lorenzo nou (7) en Divandré (nou 10). Foto: Facebook

Toe Janse van Vuuren in Mei verlede jaar begin siek voel, het sy gemeen dis net verkoue. Maar sy het nooit ten volle herstel nie.

Op die dag wat sy siek geword het, kon sy nie asemhaal nie en sy het gebloei. “Ons het ’n ambulans gekry om haar by die huis te kom haal.”

Hulle het met haar na die Sasolburgse hospitaal gehaas, waar die dokters toetse gedoen het. Daarna is sy na Kroonstad gestuur. Ná drie dae daar het die dokters vasgestel sy het leukemie.

Leh-André Jansen van Vuuren met haar haar seuns, Divandré (nou 11) en Lorenzo (nou 8). Foto: Vaalweekblad

Twee dae later is sy na Universitas oorgeplaas, waar dokters met chemoterapie begin het. Die ses sessies het haar baie siek gemaak.

“Met die laaste chemoterapiesessie het ons haar amper verloor,” vertel Gouws. “Gelukkig kon die dokters haar resussiteer en sy het dit oorleef.”

Daarna het dit ’n jaar en vier maande goed gegaan, maar met haar opvolgbesoek middel November het die bloeduitslae gewys die kanker is terug. “Dit was 90% in die beenmurg en 17% in haar bloed. Hulle het toe op 13 November weer met chemoterapie begin.”

‘Die swam het in haar hele liggaam versprei’

Jansen van Vuuren het reeds een sessie voltooi en sy is deur erge pyn. “Sy het eers begin kla oor haar bene wat seer was en haar mond wat pyn en maak dat sy nie kan eet en sluk nie. Dokters het haar ondersoek en ontdek dat sy ’n swam in haar mond het. Die swam het tot ’n infeksie in haar hele liggaam versprei.”

Haar dokters het haar ingelig dat die chemoterapie wat sy ontvang het, nie weer aan haar gegee kan word nie omdat dit so aggressief is. Dit het haar bitter siek gemaak, en as sy dit ontvang, kan dit haar doodmaak.

Hulle kan ’n ander soort chemoterapie aanbeveel, maar dit kos R30 000 per sessie en sy het ses sessies nodig, vertel Gouws. “Ons probeer oral geld insamel om te kyk of ons genoeg kan insamel om vir die chemoterapie te betaal.”

Leh-André Jansen van Vuuren en haar stiefma, Claudette Gouws. Foto verskaf

Die jong ma het twee seuns, ’n agtjarige en ’n elfjarige. Die oudste, Devandré, het onlangs ’n operasie ondergaan nadat hy sy arm gebreek het. Hy was amper twee weke in die hospitaal voordat hy die operasie kon ontvang.

Haar man, Devan, is terug op Sasolburg omdat hy moes teruggaan werk toe. “Ongelukkig moet iemand sorg dat daar kos op die tafel is. Op die oomblik is sy dus alleen in Bloemfontein en veg hierdie stryd alleen.”

Enigeen wat wil help om Jansen van Vuuren se chemoterapie moontlik te maak, kan Gouws se Facebook-profiel vir nog inligting besoek.

OFM Nuus/Heidre Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.