On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Beter veiligheid gevra ná aanval by Kimberley-hospitaal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:39 Wed, 04 Dec 2024

Beter veiligheid gevra ná aanval by Kimberley-hospitaal | News Article
Foto: iStock

’n Verpleegvakbond versoek strenger veiligheidsmaatreëls by gesondheidsinstellings in die Noord-Kaap ná ’n steekvoorval.

’n Jong man (23) is Sondag (1/12) omstreeks 08:15 buite die Galeshewe-daghospitaal in Kimberley aangeval, sê lt.kol. Sergio Kock, provinsiale polisiewoordvoerder. Hy is meermale gesteek voordat hy in die hospitaal opgeneem is.

Een van die drie verdagtes is ure later in Galeshewe in hegtenis geneem op aanklag van poging tot moord.

Die vakbond Denosa is bekommerd oor die veiligheid van hospitaalpersoneel, pasiënte en die gemeenskap. Hulle beskou dié voorval as ’n voorbeeld van die gesondheidsdepartement se versuim om voldoende veiligheidsmaatreëls te tref, sê Gilbert Sak, provinsiale voorsitter.

Aanklag van poging tot moord

“Denosa het die veiligheidskwessie onder meer opgehaal voor die opening van die noodeenheid by die Galeshewe-daghospitaal omdat ons meen te min word gedoen (om veiligheid op te skerp).”

Gesondheidsinstellings is veronderstel om veilige ruimtes te wees vir mediese personeel en pasiënte, meen Sak. “Ons glo (ook) dié instellings moet plekke wees waar gemeenskappe verseker is van hul veiligheid tydens hul besoeke.”

Die vakbond eis onmiddellike optrede, insluitend die inwerkingstelling van ’n 24-uur-veiligheidsplan, die werwing van bykomende opgeleide veiligheidsbeamptes en die verskaffing van die nodige toerusting om personeel se veiligheid te verseker.

Senior amptenare moet aanspreeklik gehou word

“Ongelukkig was daar geen poging van die departement om te verseker dat voldoende veiligheid beskikbaar is by die gesondheidsinstellings nie,” sê hy.

Denosa meen senior amptenare in die gesondheidsdepartement moet aanspreeklik gehou word vir die voorval by die daghospitaal in Galeshewe, aangesien hulle nie die veiligheid van Denosa-lede en die gemeenskap verseker het nie.

Verpleegsters word intussen daagliks onderwerp aan fisieke en mondelinge mishandeling. Talle gevalle word nie aangemeld nie, en wanneer dit wel aangemeld word, skiet die gesondheidsdepartement se reaksie dikwels tekort.

Versuim om aandag te skenk aan veiligheidsprobleme

“Die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement sien deurentyd beroepsgesondheid en -veiligheid oor die hoof. Dit blyk uit die afwesigheid van hierdie noodsaaklike komitees in gesondheidsinstellings en in distriks- en provinsiale kantore. Ons pleit al geruime tyd vir hierdie komitees, maar ons versoeke word geïgnoreer.”

Denosa meen die departement se versuim om aandag te skenk aan veiligheidsprobleme het tot die huidige krisis gelei. “Die departement het versuim om verslae oor beroepsgesondheid- en veiligheidsmaatreëls op te stel of relevante beleidstellings te implementeer,” meen Sak.

Kock sê die verdagte sal ná verdere ondersoek in die hof verskyn.

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.