Central SA
Vermiste Vrystaatse kunstenaar: Vrou, vriend weer in hof─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:17 Wed, 04 Dec 2024
Die vrou van ’n Vrystaatse kunstenaar en haar vriend wat van betrokkenheid by sy verdwyning verdink word, doen na verwagting Woensdag (4/12) aansoek om borg.
Nombulelo Pheko (34) en Dlamini (Hitman) Ramosoeu (39) het Maandag (2/12) vlugtig voorgekom in die landdroshof in Botshabelo. Beamptes van die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaadeenheid het hulle Vrydag in dié township naby Bloemfontein in hegtenis geneem, sê sers. Mahlomola Kareli, provinsiale polisiewoordvoerder.
Die twee verdagtes staan tereg op aanklagte van sameswering om moord te pleeg in verband met die verdwyning van Pesa Pheko (37), wat sedert 10 Julie vermis word.
Tydens sy verdwyning het Pesa ’n lang groen bomwerperbaadjie, swart jeans, swart tekkies en ’n grys beanie aangehad. Pesa se familie glo Nombulelo weet waar haar man is, sê Kareli.
Pesa Pheko tydens een van sy optredes. Foto X
Hy is laas in die vroeë oggendure van 10 Julie deur sy gesin gesien toe hy hul huis in Botshabelo verlaat het vir ’n hospitaalafspraak in Bloemfontein. Hulle het hom ses dae later as vermis aangemeld.
Enigiemand met inligting oor die saak of oor waar Pesa hom bevind, word versoek om die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad te bel by 078 184 9105 of 051 507 6622.
Bel Stop Misdaad by 08600 10111 of gebruik die MySAPS-app om anonieme wenke deur te gee.
OFM Nuus