Central SA
Klerksdorp-rillerhuis: Saak duur steeds voort─── KAREN VAN DER BERG 08:29 Wed, 04 Dec 2024
Hulle poog steeds om die intensiteit en die gereeldheid van die misdaad wat teen kinders gepleeg word, so ver moontlik te versag.
So sê Linette Lintvelt, die woordvoerder van die organisasie Unchain Our Children.
Die organisasie was ’n jaar gelede in die nuus toe hulle gehelp het om drie erg verwaarloosde en mishandelde kinders uit ’n nagmerriehuis in Klerksdorp te red.
Die kinders was so vuil en verwaarloos dat hulle aanvanklik vir poppe op die bank aangesien is. ’n Meisie (3) en babadogtertjie (9 maande) en hulle boetie (2) is in die hool aangetref. Wayne van Onselen, die direkteur van die organisasie, het destyds aan OFM Nuus gesê die ouers word aangekla van kinderverwaarlosing en verkragting omdat die dogtertjies na bewering seksueel misbruik is.
‘Die kinders is in veiligheid geplaas en is baie gelukkig’
Die saak duur steeds voort, sê Lintvelt. “Die belangrikste is, die kinders is in veiligheid geplaas en is baie gelukkig. Ons kan ongelukkig nie verdere inligting deel nie (weens) die sensitiwiteit van die saak. Maar dit gaan baie goed met die kinders.”
Sy sê Unchain Our Children kan nie die belange van kinders alleen dra nie. “Daarom eer ons die kenners en rolspelers wat ons so goed bystaan om die kinders sowel as slagoffers van geweldsmisdaad te help.”
Die organisasie het die naweek op sy jaarlikse erkenningsgeleentheid in Pretoria erkenning aan die rolspelers gegee. Hulle het 18 eerbewyse uitgedeel. Lintvelt sê onder die helde is regskenners, opspoorders, polisielede en skole. Vanjaar is 358 volwassenes uit nood gehelp, 222 kinders slaap veiliger en vyf gevalle van selfdood is verhoed.
• Unchain Our Children is ’n organisasie sonder winsoogmerk wat mensehandel bekamp, optree teen misdade teen kinders en ingryp by geslagsgeweld. Hulle help ook bejaardes wat mishandel word. Enigiemand wat wil help of betrokke raak kan hulle webtuiste besoek. Skakel hulle as jy iets wil rapporteer.