Central SA
Syfers wys: N12 tussen Potchefstroom en Klerksdorp steeds ‘dodelik’─── HEIDRÈ MALGAS 07:00 Wed, 04 Dec 2024
Bestuurders word gevra om hierdie Kerstyd ekstra versigtig te bestuur op die N12 tussen Potchefstroom en Klerksdorp wat berug is as een van die land se gevaarlikste paaie met ’n besonder hoë ongeluksyfer.
Barbara Creecy, minister van vervoer, het statistieke oor brandpunte vir voertuigbotsings bekendgemaak tydens die bekendstelling van die jaarlikse padveiligheidsveldtog vir die feestyd.
Die N12 loop van George deur Beaufort-Wes, Kimberley, Klerksdorp en Johannesburg tot by eMalahleni in Mpumalanga.
Creecy sê verlede jaar is in Suid-Afrika altesaam 10 180 noodlottige botsings aangeteken waarin 11 883 lewens geëis is, onder wie 5 360 voetgangers.
Spoed maak dood
’n Onrusbarende 21,3% van padsterftes was die gevolg van tref-en-trapvoorvalle. Drank en spoed was twee van die grootste bydraende faktore.
Noordwes se polisie wil motor- en vragmotorbestuurders in dié provinsie aanspoor om veilige bestuurspraktyke te volg, veral tydens die somervakansie, sê Adele Myburgh, polisiewoordvoerder. Gehoorsaam die verkeersreëls, vermy afleidings en handhaaf ’n veilige volgafstand. Spoed is dodelik.
Dronkbestuur of bestuur onder die invloed van dwelms kan die risiko van ongelukke aansienlik verhoog, sê Myburgh.
Ongelukke kry wyd uit
Volgens die departement van vervoer kom die meeste botsings op die volgende paaie voor:
- Gauteng: R21 in Kempton Park;
- Wes-Kaap: N2 in Khayelitsha;
- KwaZulu-Natal: N2 by Pongola en N2 by Umkomaas;
- Noordwes: N12 by Potchefstroom en N12 by Klerksdorp;
- Limpopo: R71 by Mankweng, R37 by Mecklenburg en N1 by Naboomspruit;
- Mpumalanga: R573 by KwaMhlanga, N4 by Vosman en N4 deur Mbombela; en
- Oos-Kaap: R61 by Mzamba, N2 by Libode, N2 by Idutywa, R61 by Mthatha, N2 by Mount Ayliff, R61 by Libode en N2 by Mthatha.
“Hierdie statistieke is aangrypend. Die getal padongelukke en die uitwerking op ons mense en ons land is ’n tragiese verhaal van dood en verwoesting, jaarin en jaaruit,” het Creecy gesê.
OFM Nuus/Heidrè Malgas