Central SA
Private brandweer blus twee brande in twee weke in die Vrystaat─── CHARNÉ VAN DER MERWE 05:30 Wed, 04 Dec 2024
Bloemfonteiners kan dié somer gerus wees brande kan gouer bedwing word danksy mooi samewerking tussen munisipale en privaat brandbestryders.
’n Burgerregteorganisasie het die afgelope twee weke twee brande in die Vrystaat geblus.
AfriForum Brandweerdiens, saam met Fire Ops SA en Mangaung-metro se brandweerdiens, het ’n sleutelrol gespeel in die bestryding van brande by ’n houthuis en ’n restaurant aan teenoorgestelde kante van die stad.
Weerlig was waarskynlik die oorsaak van ’n brand op 21 November by ’n houthuis in die noordelike voorstede van Bloemfontein, sê Christo Groenewald, AfriForum-distrikskoördineerder.
Die grasdak by die restaurant het vlam gevat. Foto verskaf
“AfriForum seg gemeenskapsveiligheidsentrum se beheerkamer het om 16:54 ’n noodoproep ontvang en binne twee minute is die brandweer uitgestuur. Kort daarna het AfriForum Brandweerdiens saam met Fire Ops SA op die toneel aangekom om Mangaung-metro se brandweer, wat reeds besig was om die brand te bedwing, by te staan.”
In ’n afsonderlike voorval op 25 November het ’n grasdak van ’n restaurant in die Spitskop-omgewing aan die brand geslaan. Fire Ops SA het omstreeks 16:04 ’n noodoproep ontvang en was binne twee minute op die perseel, sê Groenewald. “Met hul aankoms het hulle gevind dat die dak deur rook en vlamme verswelg was.”
Die gebou het nie strukturele skade gely nie. Foto verskaf
Hy sê danksy vinnige en doeltreffende kommunikasie en samewerking tussen Fire Ops SA en die metro se brandweer is die brand bedwing voordat dit kon versprei, wat skade aan die restaurant en nabygeleë strukture tot die minimum beperk het.
Die houthuis in die noordelike stede van Bloemfontein wat gebrand het. Foto verskaf
“Die gesamentlike pogings van al die brandweerdienste het verseker dat die brand vinnig beheer en geblus is,” sê Groenewald.