Central SA
Vrystater aangehou nadat hy glo meisie probeer vermoor─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:49 Tue, 03 Dec 2024
’n Vrystaatse man bly in aanhouding hangende verdere polisieondersoeke nadat hy na bewering sy meisie om die lewe probeer bring het.
Tshepiso Mofokeng (33) het Maandag (2/12) vlugtig in Virginia se landdroshof verskyn nadat hy die naweek in hegtenis geneem is, sê Palesa Thabana, polisiewoordvoerder.
Die klaagster beweer sy was Saterdag (30/11) om 02:00 saam met haar kêrel in ’n taverne toe ’n man kom vra het om eenkant met hom te praat.
“Sy beweer sy het tydens hul gesprek gehoor hoe die onbekende man vir haar kêrel sê: ‘Jy kan haar maar kry,’” sê Thabana.
Oor haar gery
Thabana sê toe haar kêrel terugkom, het hy haar gegryp en na bewering te lyf gegaan. “Hy het haar na buite gesleep en met haar in die bosse ingery, waar hy aangehou het om die slagoffer aan te rand.”
Thabana sê die beskuldigde het haar glo ook met sy voertuig gestamp en oor haar gery terwyl sy op die grond gelê het. “Sy het verskeie ernstige beserings opgedoen. Die beskuldigde het haar toe by die hospitaal gaan aflaai,” sê Thabana.
In ’n ander geval van poging tot moord het Sonwabo Flenki (44) Dinsdag (26/11) sy eerste verskyning in die Rustenburg-landdroshof op twee aanklagte van poging tot moord gehad.
Volgens brig. Sabata Mokgwabone polisiewoordvoerder is die beskuldigde Sondagoggend vroegoggend deur die Potchefstroom Flying Squad-beamptes in hegtenis geneem net ure nadat hy op sy meisie en ’n vriendin geskiet het.
“Flenki was na bewering in ’n dispuut met sy meisie en ’n ander vrou betrokke. Flenki het toe glo die vriendin in die maag en been geskiet by die parkeerterrein van ’n kroeg in Uitbreiding 1, Paardekraal, naby Boitekong buite Rustenburg. Hy het ook probeer om sy meisie te skiet, maar die vuurwapen het nie gefunksioneer nie.”
Op sy meisie en ’n vriendin geskiet
Flenki het in sy wit Volkswagen Polo van die toneel gevlug.
Die Boitekong-polisie was op die uitkyk vir die voertuig, en dit is ’n paar uur later in Klerksdorp opgespoor. Lede van die Flying Squad het die voertuig op die R30-pad opgemerk en dit afgetrek.
Mokgwabone het bevestig dat die beskuldigde in hegtenis geneem is, en daar is op sy voertuig en vuurwapen beslag gelê.
Provinsiale polisiekommissaris, lt. genl. Sello Kwena, het die Potchefstroom Flying Squad-offisiere geloof vir hul ywer en vinnige reaksie, wat tot hierdie inhegtenisneming gelei het.
OFM Nuus cg