Central SA
Verdagtes gesoek ná grootskaalse veediefstal in Noord-Kaap─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:45 Tue, 03 Dec 2024
Noord-Kaapse polisie soek steeds na die veediewe wat ’n groot getal boerbokke buite Kimberley gesteel het.
Die eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies in Kimberley ondersoek die voorval waarin 126 boerbokke van ongeveer R315 000 op die plaas Klein Kareem voete gekry het, sê kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder. “Die klaer het Sondag (1/12) gesien die hangslot aan die heining is gebreek en van sy boerbokke word vermis.”
Beamptes het vinnig gereageer en 19 boerbokke ter waarde van R47 000 Sondag langs die Griekwastad-pad buite Kimberley teruggekry. Maandag is 95 bokke naby Platfontein gevind.
Minder veediefstalgevalle in die Noord-Kaap, Noordwes en Vrystaat aangemeld
Die eienaar van die boerbokke is in kennis gestel en kon die vee aan hul tatoeëermerke eien. Die polisie soek steeds na verdagtes asook die twaalf bokke wat nog nie teruggevind is nie.
Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, sers. Lerato Phiri, by 082 495 0736 bel. Gee wenke deur met die MySAPS-app of bel Stop Misdaad by 08600 10111.
Luidens die polisie se jongste misdaadstatistieke van Julie tot September is minder veediefstalgevalle in die Noord-Kaap, Noordwes en Vrystaat aangemeld as ’n jaar vantevore.
Twaalf bokke nog nie teruggevind
Enigiemand wat beeste, skape, bokke of varke besit, moet hul vee merk, sê die regering.
• Die eienaar moet aansoek doen om ’n geregistreerde identifikasiemerk by die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.
• ’n Diere-identifikasiemerk dui die eienaar van die dier aan. As die dier wegloop of gesteel en gevind word, word die merk gebruik om die eienaar op te spoor.
• ’n Identifikasiemerk bestaan uit nie meer nie as drie letters van die alfabet of simbole (karakters).
• Permanente identifikasiemerke kan op die diere aangebring word deur middel van warmbrandmerking, vriesbrandmerking of tatoeëring.
• As jy diere aankoop of hulle as ’n geskenk ontvang, moet jy binne twee weke ’n identifikasiemerk op hulle aanbring. As jy diere verkoop, moet hulle ook jou identifikasiemerk dra.
• Jou merk word op die Nasionale Register van die Diere-identifikasiestelsel geplaas en niemand anders mag dit gebruik of jou diere daarmee merk sonder jou toestemming nie.
Let wel: Jy mag nie ’n identifikasiemerk op jou diere aanbring indien jy nie sodanige identifikasiemerk geregistreer het nie.
OFM Nuus cg