On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Potchefstromer met miljoene se dagga kry borg

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:58 Fri, 29 Nov 2024

Potchefstromer met miljoene se dagga kry borg | News Article
Michael Cilliers. Foto: Facebook/Michael Cilliers

’n Potchefstroomse man wat in hegtenis geneem is vir die besit van miljoene rande se dagga en daggaplante, is borgtog toegestaan vir verdere ondersoek.

Michael Cilliers (29), wat daarvan verdink word dat hy ’n dagga-laboratorium met plante ter waarde van ’n geraamde R10 miljoen bedryf het, is Vrydag (29/11) op borgtog van R20 000 vrygelaat, sê kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder.

“Die ballistiese toetse moet nou uitgevoer word op die wapens waarop die polisie beslag gelê het toe hy in hegtenis geneem is.”

Foto ter illustrasie. Foto: Canva

Cilliers se eerste hofverskyning was op 19 November, waar hy tereggestaan het op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en plofstof, asook die verbouing en handel in dagga.

Funani het vroeër aan OFM Nuus gesê die polisie se dwelmtaakspan en die provinsiale georganiseerde misdaadeenheid het op 14 November ’n deursoekingslasbrief verkry om ’n kleinhoewe in die Vyfhoek-omgewing, naby Potchefstroom, te ondersoek. ’n Sekuriteitsmaatskappy het hulle tydens die operasie vergesel.

‘Totale straatwaarde van die dagga- en daggaplante op R10 miljoen geraam’

“Tydens die soektog het owerhede vuurwapens, ploftoestelle – insluitend handgranate en pypbomme – en ’n hidroponiese dagga-laboratorium ontdek. Die totale straatwaarde van die dagga- en daggaplante wat op die terrein gevind is, word op R10 miljoen geraam.

Cilliers moet weer 25 Maart in die hof verskyn.

Die polisie herinner die publiek daaraan om misdaad anoniem aan te meld by Stop Misdaad by 08600 10111 of met die MySAPS-app. Bel die afpersingsblitslyn by 080 091 1011.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.