On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

27 worshonde toon goeie vordering ná verwaarlosing

───   HEIDRÈ MALGAS 15:07 Fri, 22 Nov 2024

27 worshonde toon goeie vordering ná verwaarlosing | News Article
Die skuiling het deurentyd iemand om na hul behoeftes om te sien. Foto verskaf

Die 27 worshonde wat ’n diereskuiling op Stilfontein uit haglike omstandighede gered het, toon goeie vordering onder ’n veearts se toesig.

Die honde het soos geraamtes gelyk toe hulle Woensdag (20/11) gered is, sê Suzette Kotzé, mede-eienaar en inspekteur van die Matlosana-diereskuiling. “Hulle het aan ernstige wanvoeding en verwaarlosing gely en is gered nadat beamptes berigte oor hul slegte toestande ontvang het.

“Ons het ’n anonieme oproep … oor hierdie worshonde gekry. Ons het na die eienaars gegaan en aan hulle verduidelik wat kan gebeur as hulle nie met ons saamwerk nie. Hulle het toe vrywillig die worshonde aan ons oorhandig,” sê Kotzé. Die eienaar was nie gekant daarteen nie en het nie snaaks opgetree nie.

Hoewel die honde begin sosialiseer en goed eet, sal geeneen die skuiling verlaat sonder veeartsenykundige goedkeuring en sterilisasie nie. Geen pleegsorg word toegelaat nie, aangesien hulle bekwame personeel het en deurentyd iemand het om na hul behoeftes om te sien.

Die honde is vrywillig oorhandig. Foto verskaf

“Toe ek die huis binnegaan, het ek die skok van my lewe gekry. Die honde het soos geraamtes gelyk, asof hulle Halloween-versierings was, maar dit gaan al soveel beter met hulle.”

Sy sê die eienaar het met die honde geteel om die pot aan die kook te hou. Hulle is nooit uitgelaat nie en is heeltyd binne gehou. “Ons gaan baie streng wees oor die potensiële aannemers. Dit moet mense wees wat reeds ervaring met worshonde het en wat worshonde goed ken.”

Enige voornemende aannemer sal aan streng keuring onderwerp word. “Geen hondjie sal pleegsorg kry nie. As jy wil pleeg, kan jy netsowel aanneem. Hulle sal eers die skuiling se perseel verlaat as ’n tuis-inspeksie gedoen is en ons tevrede is dat die honde die beste sorg en lewe sal kry.”

Die honde het soos geraamtes gelyk. Foto verskaf

Die skuiling se personeel werk onvermoeid om hierdie hulpelose diere te rehabiliteer en voorsien mediese sorg, behoorlike voeding en liefde. Dié hartseer voorval beklemtoon die dringende behoefte aan verantwoordelike troeteldiereienaarskap en bewustheid oor dierewelsyn.

Die skuiling doen ’n beroep op skenkings en ondersteuning om te help met die herstel en versorging van hierdie worshonde, sodat hulle ’n gesonder, gelukkiger lewe kan begin.

Jy kan ’n skenking maak deur hul Facebook-blad te besoek.

OFM Nuus/Heidre Malgas

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.