Central SA
Gautengse polisie maak deurbraak in misdaadbekamping─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:44 Fri, 22 Nov 2024
Die Gautengse polisie beloof om onvermoeid met hul vennote saam te werk om selfs meer misdadigers aan die pen te laat ry.
In die stryd teen misdaad het die polisie binne net ses weke 700 onwettige vuurwapens en 3 000 rondtes ammunisie teruggevind.
Boonop is honderde verdagtes in hegtenis geneem vir verskeie misdaadvoorvalle wat met hierdie onwettige wapens verband hou.
Hierdie prestasie word toegeskryf aan die positiewe samewerkingspogings tussen Gautengse polisie en verskeie wetstoepassingsagentskappe, waaronder Business against Crime South Africa through the Eyes and Ears (E2)-inisiatief en die Gemeenskapspolisiëringsforum, sê kol. Dimakatso Nevhuhulwi, Gautengse polisiewoordvoerder.
Honderde verdagtes in hegtenis
“Tussen 1 Oktober en 20 November het die Gautengse polisie 778 ongelisensieerde vuurwapens en 3 827 rondtes ammunisie suksesvol teruggevind. In die proses is 929 verdagtes in hegtenis geneem vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.”
Volgens Nevhuhulwi is vuurwapens teruggevind danksy proaktiewe polisiëringstrategieë. “Hierdie strategieë het hoëdigtheid-operasies ingesluit, gerig op misdaadbrandpunte, strategiese stop-en-soek-inisiatiewe, voertuigkontrolepunte en roetine-misdaadvoorkomingspatrollies,” sê Nevhuhulwi.
Deurbraak toon onwrikbare toewyding
Fred Kekana, waarnemende provinsiale kommissaris van Gauteng, loof die gesamentlike pogings van al die wetstoepassingsagentskappe. “Hierdie deurbraak toon ons onwrikbare toewyding om ’n veiliger Gauteng te skep. Ons sal onvermoeid met ons vennote saamwerk om misdaad te voorkom en te bekamp,” beloof sy.
Die vuurwapens sal ballistiese toetse ondergaan om vas te stel of dit dalk in ander voorvalle gebruik is.
Gemeenskapslede word aangemoedig om enige misdadige optrede aan te meld by hul naaste polisiekantoor deur 08600 10111 te bel, of anoniem via die MySAPS-app, wat op enige slimfoon afgelaai kan word.
OFM Nuus cg