Central SA
Noordwester in aanhouding oor kat se dood─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:53 Fri, 22 Nov 2024
’n Man van Noordwes doen na verwagting Woensdag (27/11) aansoek om borgtog.
Adrian Vermaak (25) het Maandag (18/11) in die Winburgse landdroshof verskyn nadat hy glo ’n kat doodgesteek het, sê kapt. Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
“Na bewering het Vermaak die mannetjieskat, wat voor die hek buite sy eienaar se erf gelê het, Vrydag (15/11) tussen 20:00 en 20:25 doodgesteek.”
Vermaak is Saterdag in hegtenis geneem nadat Virginia se DBV ’n saak by die polisie aanhangig gemaak het.
Photo: Canva
Dit is die derde soortgelyke voorval wat dié vereniging binne minder as twee maande teëkom. Op Odendaalsrus is twee honde om die lewe gebring. Dié sake is ook by die polisie aangemeld, sê Ernest Khakhau, DBV-inspekteur.
“Op 16 Oktober is ’n man (38) in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy buurman se hond vieruur die oggend in die township Kutloanong aangeval het,” sê Khakhau.
Die man het glo die tweejarige Africanis-hond oor die heining getel, met ’n mes gesteek en weer in haar eienaar se erf gesit. “Die man het egter besef mense het hom gesien en die hond na sy erf geneem waar hy haar lewend verbrand en probeer onthoof het,” sê Khakhau.
‘Hulle het na bewering ’n jong hond doodgesteek’
Thakeng sê die man is hangende die ondersoek vrygelaat en het nog nie in die hof verskyn nie. Hy kan dus nie geïdentifiseer word nie.
Intussen is ’n egpaar van Odendaalsrus vroeg September in hegtenis geneem, enkele dae nadat hulle na bewering ’n jong hond doodgesteek het.
“Die egpaar staan tereg op bykomende aanklagte en het hul borgaansoeke laat vaar. Weens die aard van die aanklagte word hul identiteite weerhou,” sê Thakeng.