On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vrystater binnekort in hof weens duisende rande se dwelms

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:52 Fri, 22 Nov 2024

Vrystater binnekort in hof weens duisende rande se dwelms | News Article
Foto: iStock

’n Vrystater sal na verwagting binnekort in die hof verskyn nadat hy met duisende rande se dagga betrap is.

Die man (27) van Welkom is Donderdag (21/11) tydens Operasie Vala Umgodi deur die multidissiplinêre span in Thokozastraat in Welkom in hegtenis geneem, sê lt.kol. Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

“Nadat hulle ’n wenk ontvang het, het die span na die geïdentifiseerde adres gegaan, waar hulle beslag gelê het op dwelms en kontant.”

Volgens Covane het die polisie met hul aankoms afgekom op gedroogde daggablare in groot en klein plastieksakke met ’n geraamde straatwaarde van R15 000. “Daar is ook beslag gelê op kontant, wat vermoedelik opbrengs uit dwelmverkope is.”

Foto: iStock

Die man staan tereg op aanklagte van handel en besit van dwelms.

Intussen bly ’n Potchefstromer in aanhouding nadat hy met miljoene rande se dagga betrap is. 

Michael Cilliers (29) het Dinsdag (19/11) in die Potchefstroomse landdroshof verskyn. Hy staan tereg op aanklagte van die onwettige besit van ’n vuurwapen en plofstof, asook die onwettige verbouing en handel in dagga, het kol. Amanda Funani, provinsiale polisiewoordvoerder vroeër aan OFM Nuus gesê.

‘Die polisie het toegeslaan op ’n kleinhoewe in Vyfhoek, Potchefstroom’

“’n Lasbrief is Donderdag deur die dwelmtaakspan, veiligheidsmaatskappy BIU en die provinsiale georganiseerde misdaadeenheid uitgevoer as deel van pogings om dwelmhandel en die verspreiding van onwettige vuurwapens te bekamp.”

Volgens Funani het die polisie toegeslaan op ’n kleinhoewe in Vyfhoek, Potchefstroom, waar hulle twee vuurwapens (waarvan een selfgemaak was), ammunisie en drie tuisgemaakte ploftoestelle, waaronder twee handgranate en ’n klein pypbom, gevind het.

Geraamde straatwaarde van R10 miljoen

Boonop is ’n hidroponiese daggalaboratorium ontdek wat dagga en daggaplante bevat met ’n geraamde straatwaarde van R10 miljoen.

Cilliers bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning op Woensdag 4 Desember.

Die polisie herinner die publiek daaraan om misdaad anoniem aan te meld deur Stop Misdaad by 08600 10111 of via die MySAPS-app. Die blitslyn vir afpersingsverwante sake is 080 091 1011.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.