Central SA
Leemte wat Potchefstroomse man laat, ‘kan nie gevul word nie’─── KAREN VAN DER BERG 06:00 Sat, 23 Nov 2024
Vriende en familie neem Saterdag (22/11) afskeid van Jean van der Merwe.
Die finansiële beplanner (43) van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus het Sondag sy lewe verloor in ’n motorfietsongeluk. Hy was juis op sy sterfdag by die Biker Church and Predator-motorfietsklub se jaarlikse byeenkoms in Klerksdorp vir diegene wat in ’n motorfietsongeluk gesterf het. Op pad huis toe het hy self in ’n ongeluk gesterf.
Die diens word om 10:00 in die Duet-gemeente in Potchefstroom gehou.
Rentia Lock, Van der Merwe se niggie wat saam met hom grootgeword het, sê hulle is steeds verslae. “Sy leemte gaan in ’n hele leeftyd nie gevul word nie.”
Jean van der Merwe en sy vrou, Karin. Hulle was vir 12 jaar getroud. Foto verskaf
Lock vertel Van der Merwe was soos een van hul gesinslede. “Hy was ’n trotse en unieke mens. Hy was altyd iemand wat die middelpunt van groepe was waarin hy beweeg het. Hy het altyd geglimlag.”
Van der Merwe en sy vrou, Karin, is twaalf jaar gelede getroud. Hulle het ook twee honde, Cooper en Maximus, wat sy lewe was.
‘Daar was ’n bakkie betrokke en die polisie ondersoek die voorval’
Lock sê dit is nog onbekend hoe die ongeluk gebeur het. Daar was ’n bakkie betrokke en die polisie ondersoek die voorval.
Marica van Zyl, van die Sons of Old School MC-motorfietsklub, waarvan Van der Merwe ’n lid was, sê hy sal onthou word vir sy gawe hart, sy liefde en sy glimlag. “Ons sal hom nooit vergeet nie.”
Sy sê die motorfietsklub dra hom in hulle hart. “Ons dink ook aan sy familie en naasbestaandes in hierdie moeilike tyd.”
OFM Nuus cg