Central SA
Optog in Bloemfontein beplan teen Eskom se kragtariefverhoging─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:48 Fri, 22 Nov 2024
’n Optog teen Eskom se voorgestelde skerp tariefverhoging vind Maandag (25/11) in die Vrystaat plaas.
Die optog, gelei deur die DA in Bloemfontein, is teen Eskom se voorstel vir ’n 40%-verhoging in elektrisiteitstariewe en val ook saam met ’n openbare verhoor wat deur Nersa aangebied word.
Die geleentheid sal vooraanstaande DA-figure insluit, onder wie LP Werner Horn, Vrystaatse provinsiale voorsitter, LPW Jafta Mokoena, adjunk- provinsiale voorsitter, LPW David McKay, woordvoerder oor samewerkende regering, en verskeie parlementslede, Vrystaatse wetgewerlede en plaaslike DA-raadslede.
Totale verhoging van 40%
“Hierdie optog is deel van ’n breër poging deur die DA om Eskom se voorstel vir ’n 36%-elektrisiteitstariefverhoging vir 2025 te stuit. Dit sal gevoeg word tot die 4%-verhoging wat reeds deur Nersa goedgekeur is vir die huidige jaar. Dit stel die moontlikheid daar van ’n totale verhoging van 40%,” sê Werner Horn, provinsiale DA-voorsitter.
Die beoogde tariefverhoging kom op ’n tyd dat die Suid-Afrikaanse verbruiker reeds worstel met ewig stygende lewenskoste, veral in die Vrystaat, waar inwoners weens inflasie en hoë nutskoste onder erge geldelike druk gebuk gaan.
Verbruikers worstel reeds met lewenskoste
Eskom sê die tariefverhoging is noodsaaklik vir volhoubare lewering van elektrisiteit. Dit moet ook ’n bestendige inkomstestroom vir die sukkelende kragvoorsiener verseker.
Die DA glo egter ’n skerp styging in elektrisiteitskoste sal die reeds haglike finansiële situasie waarmee gesinne en ondernemings te kampe het, vererger.
??No one should have to choose between food & electricity! Eskom’s 40% hike will place an unbearable burden on households already struggling with the high cost-of-living.
— Democratic Alliance (@Our_DA) November 20, 2024
Say NO to this unjust hike! Sign our petition: https://t.co/yYM4TE0YDU#StopElectricityHikes #StopPowerGrab pic.twitter.com/Gr6haC5DU0
“Elektrisiteit is ’n noodsaaklike inset in die produksie van byna elke produk, wat beteken dat verhoogde tariewe kan lei tot selfs hoër pryse oor die algemeen, wat inflasie verder aanwakker. Dit kan ’n deurlopende effek op die ekonomie hê, wat moontlik veroorsaak dat die Reserwebank sy rentekoersstrategie, wat tans planne vir rentekoersverlagings insluit, heroorweeg.”
Die optog vind Maandag om 08:30 by die Bon Hotel, Bloem Plaza, Oos-Burgerstraat plaas.
OFM Nuus cg