Central SA
Ondersoek ingestel ná moord op sesjarige van Welkom voor pa se selfdood─── HEIDRÈ MALGAS 07:00 Fri, 22 Nov 2024
Opod stel ondersoek in nadat ’n Vrystaatse tronkbewaarder na bewering sy dogtertjie doodgesteek en toe sy eie lewe geneem het.
Die Ventersburgse werknemer van korrektiewe dienste het Saterdag (16/11) tuis in Thebekostraat, Thabong, ’n wapen op sy vrou (38) gerig en haar in ’n voertuig gedwing terwyl hul sesjarige alleen in die huis agtergebly het, sê Stephan Thakeng, provinsiale polisiewoordvoerder.
Nadat hy sy vrou in die motor vasgebind het, is die man terug by die huis in, maar dit sou eers later aan die lig kom waarom hy weer die huis binnegegaan het. Hy is terug na die motor en het met sy vrou na ’n onbekende bestemming gery.
Daar gekom, het die man sy vrou verkrag terwyl hy haar met ’n vuurwapen aangehou het. Sy het dit reggekry om weg te kom en het die ontvoering en verkragting by die polisie op Ventersburg aangemeld.
‘Hulle het haar aangetref met verskeie steekwonde in haar bors, rug en sy’
“Sy het gevra dat hulle Thabong-polisiebeamptes na haar huis stuur om te kyk of alles in die haak is met haar dogtertjie,” vertel Thakeng. Hulle het haar aangetref met verskeie steekwonde in haar bors, rug en sy. Sy is op die toneel dood verklaar.
Korrektiewe dienste se bestuur op Ventersburg het dieselfde dag ’n klagte van vuurwapendiefstal aanhangig gemaak. Dit was die vuurwapen waarmee die man sy vrou gedreig en sy eie lewe geneem het. Ná ’n soektog is die man dood aangetref met ’n enkele skietwond en die vuurwapen nog in sy hand.
Thabong se polisie ondersoek die moord op die sesjarige.