Central SA
Vrystaatse matrieks gewaarsku oor handuit ruk ná eksamen─── KEKELETSO MOSEBETSI 13:29 Mon, 18 Nov 2024
Die Vrystaatse onderwysdepartement rig ’n streng waarskuwing aan matrieks om nie oorboord te gaan ná die eindeksamen nie.
Die departement is bekommerd dat graadtwaalfs weer vanjaar gaan handuit ruk nadat hulle einde vandeesmaand hul laaste vraestel geskryf het, sê woordvoerder Howard Ndaba. Leerders se optrede, wanneer sommige hulle aan drank vergryp, openbare vandalisme pleeg en hul skooluniforms skeur, is strydig met die department se waardes soos respek en verantwoordelikheid.
Matrieks word aangespoor om liewer goeie dade te doen, soos om hul skooluniform aan minderbevoorregte leerders te skenk.
Dr. Julia Maboya, onderwys-LUR, prys leerders wat hierdie belangrike mylpaal in hul skoolloopbaan bereik het, maar waarsku teen vieringe wat hul veiligheid in gevaar stel of die beeld van hul skole en gemeenskappe skend. “Terwyl ons hierdie mylpaal vier, kan ons nie aktiwiteite toelaat wat veiligheid, respek vir eiendom en gemeenskapswelstand benadeel nie. Leerders moet besef hul optrede het ook ’n uitwerking op hul gesin, skool en gemeenskap.”
Sy spoor ouers, voogde en gemeenskapsleiers aan om met skole saam te werk om riskante “Pens Down”-geleenthede te ontmoedig en liewer opbouende en gedissiplineerde vieringe te bevorder wat trots inboesem.
Maboya sê intussen sy glo vanjaar se matriekklas sal die provinsie se rekord van akademiese uitmuntendheid voortsit wanneer hulle weer die topplek landwyd sal inneem.
“Ons mik daarna om onderwys van hoogstaande gehalte te lewer en is vol vertroue in die harde werk en toewyding van ons leerlinge, onderwysers en ouers.”