Central SA
Groeiende baard laat geld vir Noord-Kaapse tehuis inrol─── KAREN VAN DER BERG 12:26 Mon, 18 Nov 2024
Dit het begin as ’n weddenskap tussen twee vriende, maar uitgekring tot ’n reuse fondsinsameling vir die Sally Aucamp-tehuis vir volwassenes met liggaamlike gestremdhede in Kimberley.
Gideon de Jager (49), ’n elektrisiën van die Diamantstad, sê hy en sy vriend Johan du Plessis het op 11 Januarie vanjaar ’n weddenskap met mekaar aangegaan om hul baarde vir ’n jaar te kweek. “Johan moes toe ongelukkig sy baard skeer vir ’n geleentheid wat hy moes bywoon waar ’n baard nie sou werk nie.”
De Jager sê hy het besluit om syne aan te hou kweek. “Ek het toe die idee gekry om die baardgroei sommer vir ’n goeie doel te doen.” Du Plessis het ’n gestremde kind en het besluit om dit ’n geldinsameling vir dié tehuis te maak. “Ek dink hulle doen goeie werk, al kry hulle geen geld iewers nie en moet hulle alles insamel.”
Gideon de Jager van Kimberley groei al byna elf maande aan die baard van hom. Hiermee poog hy om geld vir die Sally Aucamp-tehuis in Kimberley in te samel. Foto verskaf
Mense het besluit om hom te borg en kon self op die bedrag besluit. Daar is geen ander formaat nie. Hulle kan enige hoeveelheid geld gee wanneer hulle wil.
De Jager-hulle het nou reeds R18 000 ingesamel. Op 11 Januarie word sy baard in die Duits-Wes-kuierplek geskeer. “Ek oorweeg ook dat die persoon wat die meeste borg, my baard mag afskeer.”
De Jager nooi almal om te kom meedoen aan die goeie geleentheid. Maar vir eers moet hy die erge Noord-Kaapse hitte met ’n ruie baard trotseer.
OFM Nuus cg