Central SA
Hofstryd kom oor publikasie van matriekuitslae─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:58 Mon, 18 Nov 2024
’n Burgerregteorganisasie oorweeg regstappe oor die publikasie van vanjaar se matriekuitslae.
AfriForum gee sy regspan opdrag om vir ’n hofsaak voor te berei om te verseker dat die uitslae van vanjaar se matrikulante op mediaplatforms gepubliseer mag word, sê Alana Bailey, kultuursakehoof.
Die Inligtingsreguleerder het onlangs ’n verbod op die openbare bekendmaking van hierdie resultate ingestel.
Volgens Bailey het ’n vorige regsaak wat deur AfriForum, Maroela Media en ’n matrikulant in Januarie 2022 aanhangig gemaak is, ’n soortgelyke verbod op die publikasie van die 2021-matriekuitslae suksesvol betwis.
Die departement van basiese onderwys het die aanvanklike beperking ingestel, sê sy, maar dis in openbare belang dat hierdie inligting op openbare platforms gedeel word. “Die hof het die departement beveel om voort te gaan met die openbaarmaking en het selfs ’n kostebevel teen die departement uitgereik.”
“Om dit as ’n skending van individue se reg op privaatheid te bestempel maak nie sin nie, aangesien slegs eksamennommers in die media verskyn.”
Volgens Bailey het die hof al voorheen aan AfriForum gesê dat dit nie teen enigiemand se reg op privaatheid indruis nie.
‘Die opdrag het hierdie keer van die Inligtingsreguleerder gekom’
Sy sê hoewel die vorige opdrag om die publikasie te beperk, van die departement van basiese onderwys gekom het, het die opdrag hierdie keer van die Inligtingsreguleerder gekom.
“AfriForum bly vasbeslote in sy pogings om te verseker dat vanjaar se matrikulante ook toegang tot hul uitslae op mediaplatforms sal kan kry, soos die gebruik in die verlede was.”