Central SA
Drie vermeende veediewe in Oos-Vrystaatse hof verwag─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:06 Fri, 15 Nov 2024
Die Oos-Vrystaatse polisie soek na ’n vierde verdagte wat na bewering betrokke was by veediefstal.
Dié gesoekte, vermeende veedief se drie makkers word Vrydag (15/11) in die landdroshof op Reitz verwag. Hulle is Dinsdag (12/11) deur boere op ’n plaas in die distrik aangekeer nadat hulle met gesteelde skape betrap is, sê ao. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder.
“’n Boer het Dinsdag omstreeks 17:00 sy gewone skaaptelling gedoen toe hy besef dat talle skape vermis word nadat hy slegs 143 skape getel het. Die boer het toe ’n verdagte met skape gewaar en dadelik sy bure om hulp genader.”
Die verdagtes is deur die boer en sy bure agternagesit. Drie van hulle is aangekeer. ’n Vierde verdagte het weggekom.
Vierde verdagte op vrye voet
Mophiring sê die gesteelde trop het uit 28 skape bestaan, waarvan sommige met tou vasgebind was. “Die verdagtes het drasakke, messe en toue by hulle gehad.”
Al die gesteelde skape is suksesvol aan hul regmatige eienaar terugbesorg.
Die verdagtes staan tereg op aanklagte van veediefstal.
Die polisie vra boere moet die volgende veiligheidswenke toepas om hul vee te beskerm:
- Verseker dat alle heinings en hekke in goeie werkende toestand gehou word.
- Herstel gate in en onder heinings onmiddellik.
- Eienaars moet nie net delegeer nie, maar ook beheer neem deur hul vee self te inspekteer.
- Afgeleë opritte waar vee gelaai word, moet altyd gesluit of versper wees.
- Veekrale en -kampe moet beveilig wees.
Ken jou bure
- In die beplanning van veekampe is dit raadsaam om die vorming van hoeke langs paaie te vermy omdat dit die ideale geleentheid vir veediewe skep om vee bymekaar te jaag en op te laai.
- Wanneer jy ’n bykomende plaas koop, oorweeg een wat naby jou woonplaas geleë is.
- Wees veral waaksaam tydens volmaan, oor naweke en aan die einde of begin van ’n maand, of gedurende tydperke wat jy uit ondervinding weet veediefstal, oftewel slag vir die pot, plaasvind.
- Ken jou bure.
- Tel jou vee minstens weekliks.
- Die byhou van ’n deeglike veeregister kan nouliks genoeg beklemtoon word ie.
- Merk jou vee! Gaan na jou plaaslike polisie se veediefstaleenheid waar aansoekvorms beskikbaar is en waar jy kan aansoek doen vir handelsmerksertifikate van die departement van landbou.
Boere moet kringtelevisiekameras hê
- Veeboere moet hul vee behoorlik merk volgens die Wet op Diere-identifikasie, verkieslik deur hulle te brandmerk.
- Boere word aangeraai om in tegnologie soos kringtelevisiekameras te belê.
- Indien jy vreemde diere of verdagte persone by ’n veepos opmerk, meld dit dadelik by die polisie en jou bure aan.
OFM Nuus cg