Central SA
Diereskuilings in Vaaldriehoek, Potchefstroom kort dringend hulp─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:21 Fri, 15 Nov 2024
Twee diereskuilings in Noordwes en die Vaaldriehoek het dringend hulp nodig om honderde diere te versorg.
Vaalpets, ’n diereskuiling op die Mantevrede-kleinhoewes buite Vanderbijlpark, en die Potchefstroomse Dierewelsynsvereniging word albei oorweldig deur die daaglikse versorging van meer as 300 honde en katte elk.
Met dié dat albei se voedselvoorraad vinnig minder raak, reik hierdie organisasies nou uit na die publiek om hulp. Veral dié tyd van die jaar, die sogenaamde hondjie-en-katjieseisoen, plaas sulke instellings onder druk weens ’n toestroming van bloedjong diere wat sorg nodig het.
Foto: iStock
Die Potchefstroomse Dierewelsynsvereniging (DBV) versorg op die oomblik sowat 40 hondjies en 30 katjies, sê Lizette Kruger, finansiële assistent. Een van die dringendste behoeftes is melk vir die babadiere, wat hul grootste en duurste uitgawe geword het.
“Benewens melk het ons nog daaglikse kos vir die volwasse honde en katte nodig, asook komberse. Ons kry tydens die winter gereeld skenkings vir komberse, maar baie mense besef nie dat die komberse van die honde geskeur en nat word nie.
“Die honde slaap in kratte of op palette; so ons het komberse nodig om hul lê-plekke bietjie gemakliker te maak.”
Bel 071 681 9264 om ’n bydrae te lewer.
Foto: iStock
In die Vaaldriehoek het Vaalpets die hele November ’n Food Drive om broodnodige voorrade vir die diere in hul sorg in te samel.
Vaalpets bied sedert 2015 ’n veilige hawe aan diere van die omgewing. Hulle versorg op die oomblik meer as 300 honde en katte. Boonop moet 50 babahondjies by die huis van die skuiling se eienaar, Danielle van Rooyen, versorg word, sê Laurika Oosthuizen.
Die skuiling het spesifiek skenkings van hondekos, speelgoed en komberse nodig.
Foto: iStock
Oosthuizen vertel as deel van hul veldtog Food Drive samel Vaalpets ook skenkings in vir twee ander plaaslike diereskuilings: Hermes Haven, ’n aftreesentrum vir ou honde, en Purrpaws For Life, ’n reddingsentrum met nog amper 300 honde en katte.
Inwoners van die Vaaldriehoek word gevra om skenkings af te gee by Hot Pot Paint, Houtkopweg 108, Duncanville, of by die Astron-geriefswinkel, h.v. Eerstelaan en Barrageweg, Stefanopark.
Diegene wat nie nie skenkings persoonlik kan aflewer nie, kan kontak maak met een van Vaalpets se vrywilligers om te reël dat dit afgehaal word: Rosemary Botha by 083 645 6584 of Laurika Oosthuizen by 083 737 8851.