On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Egpaar van Frankfort al langer as vyf maande soek

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:38 Fri, 15 Nov 2024

Egpaar van Frankfort al langer as vyf maande soek | News Article
JP en Vironica van Graan. Foto verskaf

’n Egpaar van die Oos-Vrystaat word steeds vermis nadat hulle vyf maande gelede laas gewaar is.

JP (43) en Veronica van Graan (35) van Frankfort se familie is rasend van bekommernis nadat hulle die egpaar laas in Mei by hul huis gesien het, sê Monica Kruger, Veronica se niggie.

Volgens Kruger het die egpaar se verhuurder hul huis besoek om huurgeld in te vorder omdat hy hulle nie in die hande kon kry nie. “Hulle klere was nog in die kas en hul sigarette op die bedkassie. Daar was sakkies met wit poeier wat soos dwelms gelyk het, maar hulle was weg. Dit was asof hulle in die niet verdwyn het.”

‘Veronica het blykbaar vyf maande gelede laas haar pensioen afgehaal’

Die Van Graans het al voorheen van tyd tot tyd weggeraak, maar dan net kort tydjies op ’n slag; daarom het hul familie dié keer twee weke gewag om hulle as vermis aan te meld.

Veronica, wat ’n ongeskiktheidspensioen ontvang nadat skisofrenie by haar gediagnoseer, het blykbaar vyf maande gelede laas haar pensioen afgehaal. Kruger beskou dit as hoogs ongewoon, want die twee kan nie daarsonder klaarkom nie. JP werk as ’n algemene werker by ’n plaaslike supermark.

Die egpaar se eerste huweliksherdenking was op 29 Oktober.


Kruger vertel JP het melding gemaak van ’n beter werkgeleentheid in Johannesburg, maar nie uitgewei nie. “Ons weet nie of hy vir hierdie werk weg is en of iets anders gebeur het nie. Ons vermoed dat hulle dalk met die verkeerde mense deurmekaargeraak het.”

Kruger sê daar was gerugte dat die egpaar in Pretoria opgemerk is en dat hulle op straat bly, “maar toe ons dit by die polisie aanmeld, het hulle gesê hulle sal die leidraad opvolg”.

‘Al wat ons wil hê, is dat hulle huis toe moet kom’

Die familie het hulle tot sosiale media gewend om hulp en ’n foto van die vermiste egpaar op die Facebook-groep “SA Persons Wanted, Missing and Found” geplaas in die hoop om inligting te kry en hulle op te spoor.

“Al wat ons wil hê, is dat hulle huis toe moet kom,” sê Kruger. “Ons wil antwoorde hê.”

OFM Nuus het ao. Mmako Mophiring, Oos-Vrystaat polisiewoordvoerder, genader om kommentaar, maar hy kon nie dadelik bevestig of die egpaar egter as vermis aangemeld is nie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.