On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Olebogeng
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Nog luiperds dwaal dalk rond by Wesselsbron

───   HEIDRÈ MALGAS 13:40 Fri, 15 Nov 2024

Nog luiperds dwaal dalk rond by Wesselsbron | News Article
Die dier is ongedeerd uit die woonbuurt in Wesselsbron verwyder. Photo: Facebook

Inwoners van Wesselsbron en omstrede word gewaarsku om op die uitkyk te wees na nog luiperds.

’n Inwoner het Dinsdag (12/11) gedink sy gewaar ’n leeu op haar erf, maar later besef dis in werklikheid ’n luiperd. Die dorp was kort voor lank in rep en roer oor die teenwoordigheid van dié vierde grootste spesie van die grootkatte, naas leeus, tiers en jaguars.

Die dier is ongedeerd uit die woonbuurt verwyder, maar sosialemediagebruikers bespiegel nou minstens nog een is op vrye voet in die woonbuurt.

Dr. Johan Jacobs kon die grootkat vinnig opspoor en naby genoeg kom om die dier met ’n verdowingspyl te skiet. Foto: Facebook/Wesselsbron Dierekliniek

’n Veearts van Wesselsbron se dierekliniek is ontbied en het die dier as ’n luiperd uitgeken. Dit het sy taak bemoeilik.

“Ons is ingeroep om hulp te verleen, en ons doel was om die dier so gou moontlik te verdoof en uit die omgewing te kry voordat iemand dalk aangeval word en die dier uit noodweer geskiet moes word,” sê dr. Johan Jacobs.

Hy kon die grootkat vinnig opspoor en naby genoeg kom om die dier met ’n verdowingspyl te skiet. “Dit duur ’n lang 5 tot 10 minute voordat die dier aan die slaap raak. Gelukkig het hy nie uit die area waarin hy geskuil het beweeg nie, en ons kon hom ongedeerd verwyder.”

Grafiek deur Kasilevesa

Dié luiperdmannetjie is blykbaar voorheen in die omgewing tussen Wesselsbron, Odendaalsrus en Kroonstad opgemerk.

Farmer’s Weekly berig die luiperd, wat na raming drie tot vier jaar oud is, is in ’n uitstekende kondisie, kom moontlik uit Vredefortkoepel-gebied, sê Jacobs. Hy voeg by dat die dier waarskynlik op soek was na ’n nuwe gebied nadat hy deur ouer, dominante luiperds uitgestoot is.

Polisiebeamptes en die DBV van Virginia het ook bystand gebied.


Onbevestigde waarnemings van ’n luiperd in die omliggende gebiede, insluitend Kroonstad, Allanridge en die distrik Wesselsbron, beteken dit kan moontlik dieselfde dier wees.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.