On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Drastiese veranderinge in Noord-Kaap wys ANC is ‘bekommerd’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:33 Thu, 14 Nov 2024

Drastiese veranderinge in Noord-Kaap wys ANC is ‘bekommerd’ | News Article
Sol Plaatje se waterkrisis word net nie opgelos nie. Foto verskaf

Benoude katte gee benoude spronge, is ’n opposisieparty se mening oor die ANC se skielike herstrukturering in die Noord-Kaap se grootste twee munisipaliteite.

So sê dr. Wynand Boshoff, Noord-Kaapse VF Plus-leier, nadat die ANC aankondiging het Sol Plaatje sowel as Dawid Kruiper se burgemeester en laasgenoemde speaker gaan vervang word.

Sol Plaatje bedien Kimberley en omliggende gebiede en Dawid Kruiper vir Upington en omstreke.

Volgens Boshoff word dié stap word beskou as ’n direkte erkenning van die voortslepende munisipale krisis in die provinsie. Hy meen dit strek egter veel verder as dié twee munisipaliteite.

Dr. Wynand Boshoff. Foto Facebook

Sol Plaatje is pas vandeesweek van ’n kategorie 5- na ’n kategorie 4-munisipaliteit afgegradeer, hoofsaaklik weens swak bestuur en finansiële wanbestuur.

Intussen wek ’n omvattende ondersoek na die Dawid Kruiper-munisipaliteit deur die Valke kommer oor korrupsie en wanadministrasie verder aan.

Volgens Boshoff was die aanstelling van Kagisho Sonyoni as Sol Plaatje-burgemeester uit die staanspoor omstrede. “Hoewel sy potensiaal nie ter sprake is nie, verg dit aansienlike ondervinding om ’n groot munisipaliteit soos Sol Plaatje te lei, veral weens die voortslepende waterkrisis en verbrokkelende infrastruktuur.”

Kagisho Sonyoni, Sol Plaatje se uittredende burgemeester. Foto: X

Die politieke druk op Sonyoni het toegeneem nadat die ANC sy meerderheid in ’n tussenverkiesing verloor het, sê Boshoff. Faksies in die ANC het die Sol Plaatje-munisipaliteit verder ondermyn. 

“Dit is ’n krisis van swak leierskap, faksievorming en ’n gebrek aan aanspreeklikheid. Die ANC het versuim om die doeltreffende bestuur te verskaf wat hierdie munisipaliteit nodig het.”

Volgens Boshoff is die keuse van nuwe ampsdraers net so dramaties as die vervangings self. “Martha Bartlett, die ANC se nuwe kandidaat vir burgemeester, is ’n boorling van Kimberley en ’n ANC-veteraan. Sy het as LUR gedien voor sy in 2020 na die Nasionale Vergadering ontplooi is. Sy is alombekend vir haar gemoedelike persoonlikheid.

“Die speaker-kandidaat, Dipuo Peters, is een van die ANC se vuurvreters. Sy het al as premier in die Noord-Kaap gedien, sowel as nasionale minister van vervoer en van energie.”

Dipuo Peters. Foto: Pinterest

Boshoff sê terwyl Peters – nou adjunkminister vir kleinsakeontwikkeling – minister was, was sy omstrede en is meer as een keer teen haar opgetree. “Sy het die direksie van Prasa, wat R14 miljard se ongerymdhede ontdek het, afgedank.”

In Dawid Kruiper word burgemeester Michael Sigede na die nasionale vergadering verskuif. “Dit is moontlik dat hy vervang word weens ongerymdhede wat die Valke oopgevlek het, sonder dat hy noodwendig aanspreeklik gehou word. Sy plaasvervanger, David Kazi, is nie tans lid van die raad nie en ook minder bekend in die gemeenskap.”

Boshoff sê dit is duidelik dat die ANC benoud raak oor die plaaslike verkiesing in 2026. “Albei hierdie munisipaliteite kan vir die party verlore gaan”, wat die opwindende geleentheid skep vir meer samewerking op munisipale vlak.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.