On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-man in hegtenis vir poging tot moord op twee vroue

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:25 Tue, 03 Dec 2024

Noordwes-man in hegtenis vir poging tot moord op twee vroue | News Article
Foto: iStock

’n Man van Noordwes, wat gepoog het om twee vroue te vermoor, bly in aanhouding en sal na verwagting op Donderdag (5/12) in die hof verskyn.

Sonwabo Flenki (44), wat Dinsdag (26/11) sy eerste verskyning in die Rustenburg-landdroshof op twee aanklagte van poging tot moord gehad het, is Sondagoggend vroegoggend in hegtenis geneem, sê brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder.

“Die vinnige reaksie deur Potchefstroom Flying Squad-beamptes het gelei tot Flenki se inhegtenisneming net ure nadat hy op sy meisie en ’n vriendin geskiet het.”

Volgens Mokgwabone was Flenki na bewering in ’n dispuut met sy meisie en ’n ander vrou betrokke. “Flenki het toe glo die vriendin in die maag en been geskiet by die parkeerterrein van ’n kroeg in Uitbreiding 1, Paardekraal, naby Boitekong buite Rustenburg. Hy het ook probeer om sy meisie te skiet, maar die vuurwapen het nie gefunksioneer nie.”

Twee aanklagte van poging tot moord

Flenki het in sy wit Volkswagen Polo van die toneel gevlug.

Die Boitekong-polisie was op die uitkyk vir die voertuig, en dit is ’n paar uur later in Klerksdorp opgespoor. Lede van die Flying Squad het die voertuig op die R30-pad opgemerk en dit afgetrek.

Mokgwabone het bevestig dat die beskuldigde in hegtenis geneem is, en daar is op sy voertuig en vuurwapen beslag gelê.

Provinsiale polisiekommissaris, lt. genl. Sello Kwena, het die Potchefstroom Flying Squad-offisiere geloof vir hul ywer en vinnige reaksie, wat tot hierdie inhegtenisneming gelei het.

Steeds in hegtenis

In ’n ander geval is Tshepiso Mofokeng (33) steeds in aanhouding nadat hy Maandag (2/12) vlugtig in Virginia se landdroshof verskyn het weens poging tot moord sê Palesa Thabana, polisiewoordvoerder. 

Die klaagster beweer sy was Saterdag (30/11) om 02:00 saam met haar kêrel in ’n taverne toe ’n man kom vra het om eenkant met hom te praat.

“Sy beweer sy het tydens hul gesprek gehoor hoe die onbekende man vir haar kêrel sê: ‘Jy kan haar maar kry’,” sê Thabana.

Oor haar gery terwyl sy op die grond lê

Thabana sê toe haar kêrel terugkom, het hy haar gegryp en na bewering te lyf gegaan. “Hy het haar na buite gesleep en met haar in die bosse ingery, waar hy haar aanhoudend aangerand het.”

Thabana sê die beskuldigde het haar glo ook met sy voertuig gestamp en oor haar gery terwyl sy op die grond gelê het. “Sy het verskeie ernstige beserings opgedoen. Die beskuldigde het haar toe by die hospitaal gaan aflaai,” sê Thabana.

OFM Nuus cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.