On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Amper 50 Welkomse leerders vir voedselvergiftiging behandel

───   HEIDRÈ MALGAS 10:43 Thu, 07 Nov 2024

Amper 50 Welkomse leerders vir voedselvergiftiging behandel  | News Article
Pilletjies is blykbaar in die peuselhappies gevind wat die leerders geeet het. Foto Facebook

’n Ondersoek is van stapel gestuur nadat amper 50 leerders van die Primêre Skool Daluvuyo in Welkom in ’n plaaslike hospitaal opgeneem is nadat hulle siek geword het van peuselhappies wat hulle by ’n spazawinkel gekoop het.

Byna al die kinders tussen ses en tien is ontslaan nadat hulle in die Bongani-hospitaal behandel is. Hulle is met medikasie huis toe gestuur, sê Howard Ndaba, Vrystaatse onderwyswoordvoerder, maar drie bly voorlopig in die hospitaal vir mediese waarneming.

Blykbaar het die leerders skyfies, koekies, lekkers en ander soetgoed geëet van ’n plaaslike spazawinkel en verkopers wat rondom die skoolperseel smous. Die polisie het die voorval bevestig.

Amptenare van die Vrystaatse departemente van gesondheid en omgewingsake is ontbied om die voorval te ondersoek. Polisiebeamptes van Thabong het ook ’n ondersoekdossier oopgemaak, Sê Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder. “Die ondersoek duur voort terwyl ons wag op terugvoer van kundiges.”


Luidens ’n verklaring van die skool sal alles wat die leerders Woensdag (6/11) by die skool geëet het, getoets word, insluitend hul pap van die oggend en hul middagete. Sosialemediagebruikers beweer dat die middagete uit geblikte vis bestaan het, wat ook getoets sal word.

Tydens ’n saalbyeenkoms Woensdag (6/11) het leerders begin simptome toon, soos ’n ernstige veluitslag, jeuk en onbeheersde ongemak, wat party op die grond laat rol het, sê Ndaba. “Voedselvergiftiging het (reeds) tragies die lewens van verskeie kinders landwyd geëis.”

“Ons is bly dat gesondheidsinspekteurs en die polisie die saak ondersoek … Ons is ingelig dat leerders peuselhappies en sjokolade van die spazawinkels en handelaars naby en binne die skool gekoop het,” sê Mantlhake Julia Maboya, LUR vir onderwys.

Alles wat die leerders by die skool geëet het, sal vir toetse gestuur word. Foto Facebook

Die skoolbestuur is aangesê om te bepaal watter verkopers op en om die skoolperseel handel dryf en hulle teenwoordigheid te beheer.

Maboya sê die departement het wetlike opsies ondersoek om handelaars rondom skole beter te reguleer. Dit sluit in moontlike interaksie met die munisipaliteit en ander belanghebbendes om afdwingbare riglyne daar te stel wat die veiligheid van leerlinge vooropstel.

Boonop is die polisie bewus van ’n video wat op sosiale media versprei word wat wys hoe leerders na bewering siek word weens die inname van ’n vermoedelik giftige stof en behandeling in die hospitaal ontvang.


“Mense word ten sterkste aangeraai om nie video’s van ernstige voorvalle in ons gemeenskappe te neem nie,” sê Thakeng. “Sulke sake moet by die polisie aangemeld word, pleks van om vals inligting op sosialemediaplatforms te versprei.”

Intussen het kinders van nog ’n Welkomse skool, die Sekondêre Skool Lekharietse, siek geword, nadat hulle Saterdag besmette water op ’n skoolkamp gedrink het. Al vyf is in ook in Bongani-hospitaal vir gastroënteritis behandel. Almal is in ’n stabiele toestand tuis.

Die water word getoets en die dokters stel verdere ondersoek in, sê Mondli Mvambi, Vrystaatse gesondheidswoordvoerder.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.