On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Historiese verkiesing: Trump of Harris?

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:37 Tue, 05 Nov 2024

Historiese verkiesing: Trump of Harris? | News Article
Oudpres. Donald Trump en adj.pres. Kamala Harris. Foto: NBC NEWS

Ongeag wie as die volgende president van die Verenigde State uit die naelskraapse stryd tree, die geskiedenisboeke sal herskryf word.

Miljoene Amerikaners sal Dinsdag (5/11) hul kruisies trek en hul keuse maak tussen oudpres. Donald Trump en adj.pres. Kamala Harris om te bepaal wie die land se 47ste president sal word.

Indien Harris wen, sal dit ’n geskiedkundige oomblik wees aangesien sy die eerste vrou van kleur sal wees wat seker die wêreld se magtigste amp sal beklee. Maar as Trump wen, sal dit die eerste keer sedert 1892 wees dat ’n presidentskandidaat wat voorheen ’n verkiesing verloor het en vier jaar uit die Withuis was, suksesvol terugkeer, sê die politieke ontleder Theo Venter.

“Dit is ook die eerste keer dat twee kandidate deurgaans [kop aan kop] op ’n vyftig-vyftig skaal in peilings is.”

Volgens Venter sal meer as 161 miljoen mense na verwagting aan dié geskiedkundige verkiesing deelneem. “Indien die kiesersopkoms minder as 55% is, sal Trump waarskynlik as oorwinnaar uit die stryd tree. As die stempersentasie egter 55% oorskry en 60% nader, is die verwagting dat Harris sal wen.”

Verkiesingsdag in die VSA word nou dikwels as verkiesingsweek beskou aangesien elke staat sy eie reëls en praktyke volg vir die tel van stembriewe wat die uitslae kan vertraag. Daar is ook die moontlikheid van regsuitdagings teen uitslae wat vertragings kan veroorsaak, berig die BBC.

‘Noord-Carolina en Georgia kan vroeë aanduidings wees’

In 2020 het The Associated Press Joe Biden Saterdagmiddag as wenner verklaar – vier dae nadat stembusse gesluit het. Maar selfs toe het die AP Noord-Carolina 10 dae ná verkiesingsdag vir Donald Trump geroep en Georgia 16 dae ná verkiesingsdag vir Biden geroep nadat stemme fisies oorgetel is.

Vier jaar tevore is die 2016-verkiesing beslis net ure nadat die meeste stembusse gesluit het. Trump is verkiesingsaand as die wenner verklaar. Die wedren se uitkoms is vanjaar moeilik om te voorspel, maar Noord-Carolina en Georgia kan vroeë aanduidings wees aangesien resultate in hierdie swaaistate relatief vinnig inkom.

Volgens Venter het Trump het sy politieke veldtogte benader met die klem op drie kernpunte. “Eerstens het sy ekonomiese beleid gesentreer rondom die slagspreuk ‘Make America Great Again’, wat die behoefte beklemtoon om die Amerikaanse ekonomie te laat herleef deur werk terug te bring na die VSA.”


Een van sy noemenswaardige posisies was oor tariewe, wat hy eens beskryf het as die “mooiste woord” in die Engelse taal. “Sy (ferm) standpunt oor tariewe, veral met China, en sy aandrang om handelsooreenkomste te heronderhandel, het aansienlike spanning geskep met baie nasies wat goedere na Amerika uitvoer.

“Tweedens was Trump diep gefokus op immigrasie, en bepleit hom vir strenger grensbeheer en die bou van ’n muur op die grens tussen die VSA en Mexiko. Sy retoriek oor die beveiliging van die grense het aanklank gevind by baie Amerikaners wat bekommerd was oor onwettige immigrasie en nasionale veiligheid.”

Trump was ook hoogs krities oor die Biden-administrasie, wat vroeg volgende jaar ná net een termyn as president sal uittree, en het dikwels beweer dat dit Amerika se posisie op die wêreldtoneel ondermyn het en hom daarvan beskuldig het dat hy nie Amerikaanse belange beskerm het nie.

“Trump het egter gedurende sy eerste termyn bewys dat hy ’n unieke politieke figuur was, maar homself geposisioneer as ’n ontwrigter en dit maak ander onseker oor die toekoms en wat die volgende stap is wat hy gaan doen.”

Miljoene mense stem vandag vir die nuwe president van die VSA. Foto: AP News

Die globale handelsomgewing kan egter minder gespanne wees onder ’n Harris-administrasie vergeleke met ’n potensiële tweede Trump-presidentskap, meen Venter.

“Vir sommige word Trump as ’n sterk kandidaat beskou, maar hulle kan die potensiële nadele van sy beleid miskyk. Neem byvoorbeeld tariewe. As jy ’n 60%-tariefmuur rondom die land sou oplê, is die mense wat jy probeer beskerm – jou eie burgers – diegene wat uiteindelik die prys betaal, nie die buitelandse uitvoerders nie.

“Dit beteken dat tariewe dikwels hoër pryse tot gevolg het vir die goedere wat jy wil beskerm, wat die einste verbruikers wat jy probeer ondersteun, kan seermaak.”


Hoewel uitvoerders maniere kan vind om die tariewe te navigeer, is die ironiese waarheid dat ’n mens steeds inkomste invorder uit die tariewe wat jy instel. “Ons het soortgelyke dinamika in Suid-Afrika sien afspeel, waar tariewe onbedoelde gevolge gehad het.”

Volgens Venter word Harris beskou as ’n meer voorspelbare kandidaat. “As sy die verkiesing wen, kan ’n mens ’n voortsetting van beleid soortgelyk aan dié onder die Biden-administrasie verwag.

“Haar leierskap sal waarskynlik daarop toegespits wees om stabiele internasionale betrekkinge te handhaaf, veral met lande soos Suid-Afrika.” Hoe dit ook al sy, sê Venter, “dis ’n baie interessante veldtog en verkiesing”.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.