On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Central SA

Bejaardes van Brits steeds in hospitaal ná aanval

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:08 Mon, 04 Nov 2024

Bejaardes van Brits steeds in hospitaal ná aanval | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Die drie onbekende mans wat ’n bejaarde egpaar van Noordwes tuis oorval, aangerand en beroof het, verkeer nog op vrye voet.

Die man en vrou van Brits word nog in die hospitaal behandel nadat hulle Vrydag (1/11) erg aangerand is, sê kol. Adele Myburgh, polisiewoordvoerder.

’n Huishulp het omstreeks 10:00 drie gewapende mans op die erf in Schuttelaan opgemerk. Sy het geskree en die huis ingehardloop met die indringers agterna.

Hulle het ’n vuurwapen op haar gerig, waarna hulle ook haar twee kollegas na die motorhuis geneem en toe na die sitkamer, waar hulle vasgebind en van hul selfone beroof is.

Teen kop geslaan

Die drie mans is toe na die eerste verdieping, waar hulle die egpaar in hul slaapkamer aangeval en aangerand het, sê Myburgh.

Die man (65) is onder meer met ’n pistool oor die kop geslaan. “Sy vrou is ernstig beseer. Dit klink of sy ’n probleem met haar nek het en die voorval het die probleem vererger.”

Die vrou (61) het ’n bestaande gesondheidstoestand en is sedert die aanval aan ’n ventilator gekoppel. Haar toestand is ernstig maar stabiel.

Inligting gevra

“Ons is in hierdie stadium nog onseker wat die aanvallers gesteel het, aangesien die man en die vrou in die hospitaal is. Ons weet nie wat vermis word nie,” sê Myburgh.

Enigiemand met inligting moet asseblief die plaaslike polisie by 060 987 7543 bel.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.