Central SA
Verdagte in Vrystaatse moord steeds op vrye voet─── CHARNÉ VAN DER MERWE 07:32 Sun, 05 Jan 2025
Niemand is nog in hegtenis geneem nie vir die moord op ’n bejaarde vrou.
Die Bultfontein-polisie ondersoek ’n moordsaak nadat die halfnaakte, lewelose liggaam van ’n vrou (86) met veelvuldige steekwonde in Phahameng, Bultfontein, ontdek is, sê kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder.
“Die polisie is Saterdag (4/1) omstreeks 10:55 na ’n moordtoneel in Phahameng ontbied. Met hul aankoms het hulle ’n vrou se liggaam ontdek in ’n plas bloed in die buitetoilet. Sy het veelvuldige steekwonde aan haar rug en nek gehad.”
Volgens Earle is die slagoffer op die toneel dood verklaar en die motief vir die moord is nog onbekend.
Veelvuldige steekwonde
Die ondersoek duur voort.
Die polisie doen ’n beroep op die publiek vir hulp om die verdagte(s) te identifiseer en op te spoor. Enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming kan lei, word versoek om speursers. Thapelo Maleka van die Bultfontein-speurdienste by 082 301 2992, die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 te kontak, of inligting via die MySAPS-toepassing te verskaf.
In ’n afsonderlike voorval is niemand nog bykans ’n week ná die moord op ’n winkeleienaar in die Noord-Kaap in hegtenis geneem nie.
By ’n vulstasie langs die pad geskiet
Die Kathu-polisie ondersoek ’n moordsaak nadat die 37-jarige Ariful Rahaman Mati doodgeskiet is, het kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, gesê.
“Mati, oorspronklik van Bangladesj, is Dinsdag 31 Desember omstreeks 13:30 in sy vragmotor by ’n vulstasie langs die N14 in Kathu geskiet,” het Ehlers gesê.
OFM Nuus het vroeër berig die polisie is in kennis gestel van ’n vragmotor wat langs die pad geparkeer was. “Met aankoms op die toneel het hulle Mati in die bestuurdersitplek gevind met ’n skietwond in sy kop.”
Mediese nooddienste het Mati na ’n hospitaal vervoer, maar hy het later aan sy beserings beswyk.
Die motief vir die moord bly onduidelik en die polisie ondersoek of enigiets uit sy vragmotor gesteel is.
Owerhede doen ’n beroep op inligting oor Mati se moord. Diegene wat dalk besonderhede het, word aangemoedig om konst. Tshireletso Leburu te kontak by 079 481 9501. Alle inligting sal as vertroulik hanteer word.
OFM Nuus cg