On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Laurika
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Verdagtes bly in aanhouding ná kapings, vergiftigings in Bloemfontein

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:54 Thu, 31 Oct 2024

Verdagtes bly in aanhouding ná kapings, vergiftigings in Bloemfontein | News Article
Foto: iStock

Twee verdagtes (39 en 44) wat glo betrokke is by die diefstal van motorfietse en die vergiftiging van honde in Bloemfontein, verskyn na verwagting volgende week weer in die hof.

Hulle het Donderdag (31/10) in die Bloemfonteinse landdroshof voorgekom waar hul borgtog geweier is, sê ao. Sinah Mpakane, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Die verdagtes is die afgelope week op afsonderlike plekke aangekeer nadat Fidelity ADT Dinsdag (29/10) ’n waarskuwing uitgereik het oor ses gevalle van motorfietsdiefstal en hondevergiftiging.

Woonbuurte soos Wilgehof, Universitas en Gardeniapark loop die afgelope maand deur nadat vyf motorfietse gesteel is en agt honde na bewering weens vergiftiging gevrek het.

‘Videobewyse en klere verbind hulle verder met hierdie misdade’

Volgens Mpakane is die eerste verdagte Dinsdag (29/10) net voor 01:00 in Kommandant Erweestraat in Wilgehof in hegtenis geneem is. “Die tweede verdagte is die volgende dag … omstreeks 01:20 gevang danksy ’n gekoördineerde poging deur Senforce, Tracker, Fichardtpark se buurtvereniging en polisiebeamptes.”

Tydens die inhegtenisnemings is twee gesteelde motorfietse teruggevind: een in Ryno Kriellaan in Universitas en die ander in Walter Sisuluweg in Wilgehof. Videobewyse en klere wat met die tweede verdagte verband hou, verbind hulle verder met hierdie misdade.

Volgens Mpakane kan die twee verdagtes ook by bykomende kriminele aktiwiteite betrokke wees.

‘Hou duplikaatsleutels veilig gestoor’

Charnel Hattingh, Fidelity ADT se groephoof van bemarking en kommunikasie, gee dié wenke vir veiligheid:

  • Maak seker dat alle deure toegerus is met betroubare slotte;
  • Installeer behoorlike slotte of boute op skuifdeure om te verhoed dat hulle van hul spore afgelig word – dit is ’n algemene metode wat deur inbrekers gebruik word;
  • Vermy om motorfietse te parkeer op plekke wat maklik van die straat af sigbaar is;
  • Hou duplikaatsleutels veilig gestoor wanneer dit nie gebruik word nie; moenie hulle in deure los of onnodige kopieë maak nie.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.