Central SA
Upington-man kry 50 jaar vir moord en verkragting─── HEIDRÈ MALGAS 15:37 Thu, 31 Oct 2024
Die hooggeregshof op Upington het ’n man (26) tot 50 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy ’n jong vrou verkrag en vermoor het.
Garshwin van Rooyen is 25 jaar opgelê vir moord en nog 25 vir verkragting ná ’n voorval waarin Verona Paulus van Lennertsville, Keimoes, om die lewe gebring is. Hy sal die twee vonnisse gelyklopend uitdien, sê Nelis Prins, polisiewoordvoerder.
“Ná deeglike ondersoekwerk het die ondersoekbeamptes, ao. William Mouers en sers. Heinrich Titus van die speurtak op Keimoes, die beskuldigde in hegtenis geneem.” Die staatsaanklaer, adv. Jacques Rosenberg het die swaar vonnis help verseker.
‘Die polisie werp alles in die stryd om misdaad teen vroue en kinders te bekamp’
Brig. Peet Coetzee, waarnemende distrikskommissaris, loof die ondersoekbeamptes vir hul noukeurige ondersoekwerk wat tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding gelei het. Hy het die gemeenskap verseker dat die polisie alles in die stryd werp om misdaad teen vroue en kinders te bekamp, en om te verseker dat oortreders die gepaste vonnisse opgelê word.
Die maksimum vonnis vir verkragting in Suid-Afrika is lewenslange tronkstraf, wat onder sekere omstandighede verpligtend is kragtens die Wysigingswet op Strafreg, Wet 105 van 1997.
Dit sluit in as die slagoffer onder 16 is, of geestelik gestremd is, as die verkragter geweet het hy is MIV-positief, as die slagoffer deur meer as een persoon verkrag is, of as die misdadiger skuldig bevind is aan twee of meer aanklagte van verkragting.
‘Wysigingswet op Strafreg van 1997 het verpligte minimum vonnisse vir verkragting ingestel’
Die hof mag na goeddunke ’n langer vonnis oplê as die minimum voorgeskrewe tydperk, indien die trauma wat die slagoffer ervaar het in ag geneem word. In een geval is ’n beskuldigde tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die herhaalde verkragting van sy 13-jarige stiefdogter.
Die Wysigingswet op Strafreg van 1997 het verpligte minimum vonnisse vir verkragting ingestel, en die Wysigingswet op Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede) van 2007 vervat ’n omvattender omnskrywings van verkragting.