On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Polisie soek dringend inligting oor huisbraak in Fauna

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:25 Thu, 31 Oct 2024

Polisie soek dringend inligting oor huisbraak in Fauna | News Article
Een van die verdagtes wat gesoek word. Foto verskaf

Die Bloemfonteinse polisie soek dringend hulp om ’n man op te spoor wat moontlik belangrike inligting oor ’n huisrooftog het.

Drie ongeïdentifiseerde verdagtes het Woensdag (30/10) omstreeks 07:00 ’n inwoner van die voorstad Fauna genader en beweer haar gestremde dogter is vir ’n prys gekies, sê sers. Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Sy het glo gevra hulle moet 11:00 terugkom.

“Op die vasgestelde tyd het die verdagtes teruggekeer en is in die huis toegelaat. Terwyl twee met die slagoffer gesels het, het die derde gevra om ’n draai te loop, waarna die slagoffers hom gaan wys het waar die toilet is,” sê Kareli. “Toe hy egter terugkom, het hy die huishulp gesleep en haar aangerand.”


Toe die verdagtes daarop aandring om die slagoffer se kluis te sien, het sy hulle verseker dat sy nie een het nie. “Die verdagtes het die slagoffer se trouring en voertuigsleutels gesteel voordat hulle in ’n wit VW Polo gevlug het.”

Die Parkweg-polisie is in kennis gestel, wat die huisrooftog ondersoek.

Enigiemand met inligting oor die verdagtes word aangemoedig om speurkapt. David Ramaswala by 082 468 1624 te nader, Stop Misdaad by 0860 010 111 te bel, of ’n anonieme wenk per die MySapsApp te gee.

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.