On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

VF Plus: ‘Komiteevoorsitter bewys hoekom Bela nie vertrou kan word’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:08 Thu, 31 Oct 2024

VF Plus: ‘Komiteevoorsitter bewys hoekom Bela nie vertrou kan word’ | News Article
Foto verskaf

’n Uitlating deur die voorsitter van die parlement se komitee oor basiese onderwys oor ’n Afrikaanse skool in die Noord-Kaap bewys weer hoekom die omstrede Bela-wet gestuit moet word.

So meen dr. Wynand Boshoff, VF Plus-onderwyswoordvoerder, nadat Joy Maimela op ’n aksievergadering met skoolhoofde en beheerliggame haar kommer uitgespreek het oor ’n Upingtonse skool wie se aansoekvorms net in Afrikaans verkrygbaar is.

Die betrokke skool is die Hoërskool Duineveld, wat Maimela besoek het ná ’n rassevoorval waarby sy leerlinge vroeër vanjaar betrokke was.

‘Die eentalige aansoekvorms is ’n manier om leerders uit te sluit’

Die VF Plus keur sulke optrede ten sterkste af. Dit kom neer op ernstige diskriminasie, soos die skool dit inderdaad behandel het, sê Boshoff. Maar Maimela was verbaas dat die meeste leerlinge van Duineveld se leerders volgens haar wit is, terwyl sy opgemerk het die omliggende gemeenskap is oorwegend bruin en swart.

Sy het beweer die eentalige aansoekvorms is ’n manier om leerders “uit te sluit” wat nie Afrikaans magtig is nie.

“Elke ouer die reg het om te kies uit ’n reeks gehalteskole wat aan verskeie opvoedkundige voorkeure voldoen,” sê Boshoff. 


“’n Mens kan nie, wanneer mense hul keuse uitgeoefen het, omdraai en vereis dat meer bruin of swart mense vir ’n spesifieke skool gekies moes word nie.”

Afrikaans is die huistaal van meer as 85% van Upington se inwoners is, voeg hy by. “Maimela het die dorp moontlik slegs deur ’n polisiebegeleide besoek ervaar, wat haar begrip van die plaaslike dinamika beperk.”

Upington is ’n gemeenskap waarin enkelmedium- Afrikaanse skole kan floreer, meen Boshoff, en maak kapsie teen die wanopvatting in die ANC dat skole die algemene demografie van ’n omgewing moet weerspieël.

‘VF Plus moedig ondersteuners aan om aan ’n betoging teen die Bela-wet deel te neem’

“Dit is duidelik waarom die ANC op ’n skolewet aandring wat die magsbalans in die rigting van die departement kantel: Dit is om gemeenskappe die reg om hul skole in stand te hou, eensydig in te kort onder die waan dat die 5% Afrikaanse skole alle onderwysprobleme kan oplos as hulle net hul aard prysgee.”

In die lig van hierdie ontwikkelinge moedig die VF Plus sy ondersteuners aan om op Dinsdag (5/11) aan ’n betoging teen die Bela-wet by die Uniegebou in Pretoria deel te neem.

Intussen verwelkom die party die Noord-Kaapse onderwysdepartement se besluit om begrotingsbesnoeiings te absorbeer sonder om onderwysposte te verminder.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.