Central SA
Noordwes-boer dood weens veldbrand─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:55 Wed, 30 Oct 2024
Die boer van Noordwes wat die naweek in veldbrand gesterf het, word Vrydag (1/11) gegroet.
Henk Meyer (59) het Saterdag in ’n veldbrand in die omgewing van die Botsalano-wildreservaat by Mafikeng, Noordwes, gesterf, sê Naudé Pienaar, voorsitter van die plaaslike boerevereniging.
’n Groot brand het in die Botsalano-wildreservaat ontstaan, blykbaar weens brandstigting. “Die wind het dit ver gedruk en dit het vinnig versprei.”
Volgens Pienaar het Meyer voorbrande probeer maak om dit van sy plaas af weg te keer, maar die rook het hom en drie plaaswerkers oorval. “Hy het in die vlamme omgekom.”
Meyer, ’n beesboer en lid van die boerevereniging, “het ’n groot bydrae tot ons boeregemeenskap gelewer en het baie goed uit sy eie sak gedoen soos om die paaie te skraap. Dit is baie hartseer om een van ons lede op só wyse te verloor.”
Sy naasbestaandes betuig hul dank aan elkeen dwarsoor die omgewing wat kom help het en elkeen wat die familie in hierdie moeilike tyd ondersteun.
Die reaksiespan het geruime tyd na die drie plaaswerkers gesoek wat vir die rook en vlamme probeer vlug het. “Ons het hulle opgespoor en ambulanse gereël dat hulle na ’n hospitaal geneem kan word,” sê Pienaar.
“Een van die werkers het tweedegraadse brandwonde opgedoen. Die ander twee is nie ernstig beseer nie.”
Pienaar sê daar was sprake dat die plaaswerker na ’n Klerksdorp-hospitaal oorgeplaas wou word, “maar op dié stadium herstel hy baie goed en dit lyk of hy binnekort ontslaan sal word”.
Meyer word Vrydag 11:00 vanuit die Christen Lewe Gemeente op Lichtenburg begrawe.