Central SA
Verhoed só dat jou voertuig gekaap word─── CHARNÉ VAN DER MERWE 05:30 Wed, 30 Oct 2024
Ten minste 60 voertuie word elke dag in Suid-Afrika gekaap.
Van 1 April tot 30 Junie is daar altesaam 5 438 kapings binne net 91 dae aangemeld.
Die Nasionale misdaadvoorkomingstrategie (NMVS) berig sedans, luikrugmotors en koepees is die gewildste onder kapers, gevolg deur bakkies en paneelwaens, sportnutsvoertuie en stasiewaens.
Modelle soos Toyota Hilux, Volkswagen Polo, Toyota Fortuner, Ford Ranger en Nissan NP200 is veral gewild.
Foto: iStock
Die versekeringsmaatskappy Virseker moedig motoriste aan om waaksamer te wees. Die volgende praktiese wenke kan help voorkom dat voertuigeienaars slagoffers word:
- Wees altyd bewus van jou omgewing en bly bedag op enigiets verdags, veral wanneer jy by jou bestemming aankom. Konsentreer op jou omgewing en beperk afleidings tot die minimum;
- Maak jouself vertroud met kapingsbrandpunte en doen moeite om dit te vermy;
- Gebruik jou GPS om nie te verdwaal nie, want dit kan jou ’n teiken maak. Lig iemand by jou bestemming van jou geskatte aankomstyd in, en ken alternatiewe roetes goed.
‘Wees bedag op voorwerpe in die pad’
- Wees versigtig wanneer jy stadig ry, want dit is dikwels wanneer kapers toeslaan;
- Wees ekstra versigtig wanneer jy brandstof ingooi of by wegneemplekke kos bestel, veral in die donker. Hou deure en vensters toe, maak slegs ’n venster oop om betalings te maak, en bly waaksaam vir enige verdagte aktiwiteite rondom jou voertuig.
- Wees bedag op voorwerpe in die pad wat gebruik kan word om jou te dwing om te stop. As jy iets teëkom en onraad vermoed, stel die owerhede in kennis sodra jy veilig is.
Foto: iStock
- Parkeer jou voertuig op so ’n manier dat jy nie vasgeparkeer kan word nie;
- Wees versigtig vir verdagte voertuie wat jou volg, veral wanneer jy na ’n OTM gaan of inkopies doen. As jy vermoed jy word agtervolg, maak verskeie vals draaie en ry na die naaste polisiestasie. As iemand genader word wat jou beduie om te stop, bly kalm, skakel jou gevaarligte aan om samewerking aan te dui en gaan voort na die naaste polisiestasie;
- In die geval van ’n ligte ongeluk en jy voel onrustig, ry na die naaste polisiestasie of ’n besige area voordat jy uitklim.
‘Parkeer altyd in veilige, goed beligte areas’
- Behoorlike beligting is noodsaaklik vir veiligheid. Maak seker dat jou oprit en hek goed verlig is, en verminder wegkruipplekke soos digte bome of bosse. Parkeer altyd in veilige, goed beligte areas;
- Wanneer jy terugkeer huis toe, stop voor jou hek en wag totdat dit heeltemal oop is voordat jy verder gaan, sodat jy kan ontsnap indien nodig;
- Verander jou roetine gereeld om dit vir misdadigers moeiliker te maak om jou bewegings of roetes te voorspel.
Foto: iStock
- Hou waardevolle items buite sig, vermy items op die sitplek langs of agter jou;
- Oorweeg dit om vensterbeskerming te installeer vir ekstra sekuriteit, en vermy dit om met vensters af en deure oopgesluit te ry;
- Belê in ’n voertuigopsporingstelsel, verkieslik een met ’n paniekknoppie.
OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh