On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Polisie vra bystand nadat tiener al drie dae vermis word

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:10 Mon, 28 Oct 2024

Polisie vra bystand nadat tiener al drie dae vermis word | News Article
Die vermiste tiener. Foto verskaf

Daar is steeds geen teken van ’n vermiste tienermeisie wat al drie dae lank vermis word nie.

Die Bethlehem-polisie vra die gemeenskap se bystand nadat ’n 17-jarige sedert Vrydag (25/10) vermis word, sê ao. Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Joliene Webster (17), van Môrelig in Bethlehem, is glo die laaste keer deur haar kêrel gesien, maar het nooit weer teruggekeer huis toe nie.”

Mophiring sê enige persoon wat dalk weet waar sy is, kan Bethlehem-speurdiens se lt.kol. Marius Nel by 082 526 2717 of 058 307 5700 kontak.

Volgens Jacqui Thomas, direkteur en medestigter van die Pink Ladies-organisasie, bestaan daar nie iets soos ’n wagtydperk indien iemand vermis word nie.  “Dit het nog nooit in Suid-Afrikaanse wetgewing bestaan nie en ek kan heeltemal verstaan dat dit van die een of ander TV-program kom wat iemand gesien het, en dit het bloot nooit weggegaan nie.”

Joliene Webster. Foto verskaf

Sy sê dit is van kardinale belang dat ’n verslag oor die vermiste mens so gou moontlik ingedien word, omdat dit die polisie en die Pink Ladies in staat stel om onmiddellik aan die saak te begin werk, wat die kans op ’n suksesvolle uitkoms verhoog.

“ ’n Soektog sal dan begin word, na gelang van die omstandighede. Wat belangrik is, is ’n onlangse foto, enige mediese toestande of beplande roetes, indien van toepassing, veral as die persoon met ’n voertuig gery het aangesien dit dan op die NAVIC-stelsels en LPR-stelsels gelaai kan word,” sê Thomas.

Vroeë aanmelding stel die polisie in staat om vars bewyse in te samel en dit verhoog ook natuurlik die kans om leidrade te vind en dan kan soek- en reddingspogings vinnig gebeur, wat die moontlikheid van ’n veilige terugkeer soveel groter maak.

Geen wagtydperk: Meld vermiste mense dadelik aan | News Article

Jacqui Thomas, direkteur en medestigter van Pink Ladies. Foto: LinkedIn

Doen dit dadelik by jou naaste polisiekantoor.

  • Verskaf ’n onlangse foto van die vermiste persoon, indien moontlik;
  • Gee ’n volledige beskrywing van die vermiste persoon se laaste verblyfplek, klere wat hulle gedra het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help;
  • Voltooi en onderteken ’n SAPD 55(A)-vorm. Hierdie vorm beskerm die polisie teen gekskeerdery en vrywaar die polisie om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei;
  • Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede, en stuur enige bykomende inligting wat beskikbaar kan word.
  • Indien ’n vermiste persoon gevind word of vrywillig terugkeer, stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis. ’n SAPD 92-vorm moet voltooi word om die Buro vir Vermiste Persone in kennis te stel dat die vermiste persoon se verslag uit die sirkulasiestelsel verwyder kan word.

    OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.