On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

‘Plattelanders moet sélf Vrystaat se historiese kerkgeboue red’

───   10:35 Thu, 24 Oct 2024

‘Plattelanders moet sélf Vrystaat se historiese kerkgeboue red’ | News Article
Die NG kerk aan die bopunt van Voortrekkerstraat, Philippolis, is Menache se gunstelingkerkgebou in die Vrystaat. Foto verskaf

Om te red wat te redde is van die land se kerkgeboue-erfenis is in die hande van elke Suid-Afrikaner.

Plattelandse dorpe se inwonertal krimp, terwyl vandalisme ingryping noodsaaklik maak om eeueoue kerkgeboue op van dié dorpe vir die nageslag te bewaar.

Philippe Menache, ’n skrywer oor kerkgeboue wat vandeesweek op Clarens ’n spreker was op die 23ste jaarlikse simposium van die Suid-Afrikaanse Erfenisvereniging, sê dit is “hartverskeurend” om die swak toestand van soveel kerkgeboue in die land te sien.

“In die sewentigerjare kon mense nog by kerke op die platteland stilhou om die mooi van die argitektuur te bewonder. Ongelukkig is soveel van hierdie eens besonderse strukture nou gedeeltelik of totaal vervalle.”

Die restourasie van Frost House in Clarens is deur die plaaslike argitek Jaap Boonstra behartig. Foto verskaf

Al het die regering nou ander prioriteite as kultuurbewaring, glo Manache daar’s tog hoop. “Dit is lank reeds tyd vir inwoners om aan die werk te spring. Toegewyde gemeenskapslede sal tyd, kennis en vernuf moet deel om die land se erfenisskatte tot hul eertydse prag te herstel en in stand te hou.”

Stadsjapies sal moet uitwyk om inwoners van nabygeleë dorpe met die herstel van kerkgeboue te help. Anders, sê hy, verdwyn honderde jare se geskiedenis bloot saam met soveel kerkgeboue in die niet.

In die Vrystaat is dit veral die bedenklike toestand van kerke op Koffiefontein en Jagersfontein wat Menache as ’n tragedie beskou. “Dis moeilik om te glo, maar van die een helfte van die Anglikaanse kerkgebou op Koffiefontein is daar geen teken meer nie.”

Die Metodistekerk in Clarens wat in die 1930’s gebou is. Foto verskaf

Oor jare heen het lidmaatskap van baie gemeentes so gekwyn dat ’n klomp plattelandse kerkgeboue in onbruik staan. “Benewens die verwagte verval wat volg, is daar boonop dikwels besetters en vandale wat aftakeling bespoedig.”

Om dit vir ander doeleindes in gebruik te stel bied ook ’n bestaanskans aan kerkgeboue, meen Menache. “Op Clanwilliam in die Wes-Kaap word die ou kerkgebou tydens die noordweste se blomtyd as uitstallokaal gebruik.” Op die rand het ’n paartjie van Cullinan ’n ou kerk as ’n woonhuis ingerig.

As kerkgeboue en infrastruktuur gereeld en sinvol gebruik word, sien belanghebbendes gewoonlik mooi daarna om. “Die nodige opknappings- en instandhoudingswerk word dan gedoen. Dikwels word ’n mooi tuin ook aangelê om die perseel te verfraai.”

Die NG kerk in Clarens. Foto verskaf

Menache, oorspronklik van België, woon reeds 56 jaar in Suid-Afrika. Sy liefde vir kerkgeboue en die bewaring daarvan het begin toe hy op 23 op die trap van die NG kerk op Vredefort gaan sit om die son te ontwyk. “Dit was 29 September 1974. Ek het pas my eerste kar gekry en het met die geel Volksie van Johannesburg af Parys toe gery.”

Op Parys gekom, het hy die 15 km na Vredefort te voet aangepak. Toe hy daar ’n blaaskans in die skadu van die kerkgebou neem om water te drink, het hy ’n geestelike ervaring beleef. Hierdeur is hy genoop om hom vir die bewaring van die land se kerke te beywer.

Dis vir hom moeilik om ’n kerkgebou as gunsteling in Suid-Afrika uit te sonder, maar vir die Vrystaat is dit maklik. “Ongetwyfeld die kerk in Voortrekkerstraat op Philippolis.

Philippe Menache, ’n skrywer oor kerkgeboue wat vandeesweek op Clarens ’n spreker was op die 23ste jaarlikse simposium van die Suid-Afrikaanse Erfenisvereniging. Foto verskaf

“Dit verrys majestueus wanneer jy die dorp vanuit die suide binne ry. Daar is natuurlik nog baie ander kerkgeboue in die Vrystaat wat van argitektoniese en historiese belang is.”

  • Philippe Menache en Darryl Earl David is medeskrywers van 101 Country Churches of South Africa (2010), A Platteland Pilgrimage: 102 Country Churches of South Africa (2012), en Church Tourism in South Africa: A Travel Odyssey (2015). Vir Die NG Kerk – Ons Erfenis het hy kragte saamgesnoer met Helmut Wolff.
  • Die kerk op Philippolis is deur die argitek Richard Wocke ontwerp. Dis ook hy wat die planne vir die Tweetoringkerk in Bloemfontein opgetrek het. Wocke, oorspronklik van Pruise, was die eerste argitek in die Vrystaat. Hy het hom in Bloemfontein gevestig, waar hy op 24 April 1890 oorlede is.

OFM Nuus/Anna Pauw cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.