On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Jaarlikse skoenboksprojek help minderbevoorregtes

───   HEIDRÈ MALGAS 15:29 Wed, 16 Oct 2024

Jaarlikse skoenboksprojek help minderbevoorregtes | News Article
’n Voordeel van die skoenboksprojek vir kinders is dat dit soms skoolbenodigdhede bevat. Foto verskaf

’n Bloemfonteinse nie-regeringsorganisasie vra weer die publiek se hulp met vanjaar se skoenboksprojek en “neem ’n ouma of oupa aan”-veldtog om harte dié Kerstyd te verbly.

“Die skoenboksprojek en ‘adopt a grandparent’ is ’n jaarlikse instelling en ons doen dit al langer as tien jaar,” sê Hester Bekker, medestigter van Guardian & Angel. “Behoeftige kinders en bejaardes kry selde iets lekkers of moois. Hulle is net gewoond aan swaarkry; daarom wil ons hulle graag help.”

Sy sê dis ’n groot voorreg om skoenboks-geskenke saam met ’n ete en kospakkie vir die feestyd aan behoeftige mense te voorsien. “Terwyl ander mense die fees met hul familie vier, het hulle darem ook iets om te geniet.”

Behoeftige kinders en bejaardes kry selde iets lekkers of moois. Foto verskaf

Een van die groot voordele van die skoenboksprojek vir kinders is dat die bokse soms skoolbenodigdhede bevat, wat hulle help om die skooljaar te begin. Daarom vra die organisasie gewoonlik dat mense een of twee skryfbehoeftes ook insluit wanneer hulle die bokse pak, omdat baie ouers nie skoolbenodigdhede kan bekostig nie.

“Deur hulp te verleen aan diegene in nood kan ons werklik ’n verskil in hul lewe maak. Wanneer ons hande vat en bydra tot hierdie projekte, help ons om hoop en vreugde te bring waar daar dikwels net behoefte en verdriet is. Hierdie klein gebare van menslikheid kan lewens verander en nuwe geleenthede skep.”

Dis ’n groot voorreg om behoeftige mense van ’n ete en kospakkie vir die feestyd te voorsien. Foto verskaf

Sy vertel dit help ook in Januarie wanneer die skole weer begin. “Dan is daar ten minste ’n paar skryfbehoeftes in die boksies – nie alles nie, maar darem iets.

“Baie van die boksies bevat byvoorbeeld ’n stel klere, ’n speelding, iets lekkers soos koekies of lekkernye, en ’n paar badprodukte, wat nuttig te pas kom.”

Wat die bejaardes betref, vra Bekker-hulle dat mense die geskenk kan saamstel “soos wat dit op hul hart druk”.

‘Die bejaardes geniet hierdie geskenke regtig baie.’ Foto verskaf

Haar span pak gewoonlik badprodukte in, asook koekies, lekkernye of enigiets anders wat hulle kan verskaf. “Ons voeg ook ’n Bybelse dagboek by, of vra huisgenote vir items wat hulle nie meer gebruik nie, en die bejaardes geniet hierdie geskenke regtig baie.”

Vir die oupa-en-ouma-projek kan mense ’n geskenk borg vir slegs R200, asook nie-bederfbare voedsel vir gesinne in nood. Die organisasie het omtrent 500 gesinne geïdentifiseer wat hierdie hulp regtig nodig het.

Vir nog inligting, besoek Guardian & Angel se Facebook-blad.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.