On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bothavillers stort vullis in dorp weens haglike stortingsterrein

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:55 Wed, 16 Oct 2024

Bothavillers stort vullis in dorp weens haglike stortingsterrein | News Article
Inwoners op Bothaville is omgekrap oor die haglike toestand van die stortingsterrein. Foto verskaf

Dringende antwoorde word geëis van ’n Vrystaatse munisipaliteit oor die toestand van ’n plaaslike stortingtsterrein.

Die stortingsterrein op Bothaville is byna oorvol en voldoen nie aan wetlike vereistes nie, sê Alta Pretorius, AfriForum se Mooirivier-distrikskoördineerder.

In ’n brief wat AfriForum Vrydag (11/10) aan die Nala-munisipaliteit gerig het, wil die burgerregteorganisasie weet of ’n nuwe terrein reeds geïdentifiseer is en, indien wel, of ’n omgewingsimpakstudie uitgevoer is.

“Daar is ook geen heining rondom die terrein nie,” sê Pretorius, “wat veroorsaak dat afval oral waai en die omgewing besoedel. Daarbenewens het die stortingsterrein geen vorm van toegangsbeheer of sekuriteit nie."

Die stortingsterrein op Bothaville is oorvol. Foto verskaf

Sy verduidelik hierdie situasie lei daartoe dat mense afval onwettig stort langs die toegangspad na die stortingsterrein omdat baie vrees om die terrein te besoek weens verdagte mense wat daar uithang.

“Die pad na die stortingsterrein is in so ’n swak toestand dat motoriste vermy om daarop te ry, omdat dit hul bande beskadig. Dit het daartoe gelei dat afval ook onwettig op die dorp gestort word.


“Die (toegangs)pad word net af en toe geskraap – hoofsaaklik wanneer dit heeltemal onbegaanbaar word – wat onvoldoende is. In die brief versoek AfriForum dat die pad minstens twee keer per maand geskraap word.”

Pretorius sê terwyl die bedrywighede op die stortingsterrein daaglikse verdigting en bedekking met grond vereis, gebeur dit selde weens die gebrek aan funksionerende toerusting.

Die toegangspad na die stortingsterrein is ook in ’n swak toestand. Foto verskaf

Die plaaslike AfriForum-tak gee Nala-munisipaliteit tot einde Oktober om sinvolle stappe te doen om die stortingsterrein reg te ruk. “Die tak het ook aangebied om die munisipaliteit by te staan om die terrein weer op standaard te bring.

“Ek hoop van harte die munisipaliteit sal AfriForum se aanbod van hulp aanvaar,” sê Pretorius.

OFM Nuus het die munisipaliteit om kommentaar genader.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.