On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Polisieman skuldig aan aanranding, nog klagte

───   HEIDRÈ MALGAS 12:30 Wed, 16 Oct 2024

Polisieman skuldig aan aanranding, nog klagte | News Article
Slegs een uit tien burgers dink die regering doen ’n goeie werk om misdaad te verminder.

Wesselsbron se landdroshof het ’n polisiebeampte boetes en/of tronkstraf opgelê nadat hy ’n klaer te lyf gegaan, skote afgevuur en sy selfoon gebreek het.

Daniel Petrus du Toit (52) is ’n boete van R6 000 of ses maande gevangenisstraf opgelê vir aanranding, sê Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse NVG-woordvoerder. Vir die ongeregverdigde afvuur van ’n vuurwapen in ’n beboude gebied is hy beboet met R10 000 of twaalf maande gevangenisstraf, geheel en al opgeskort vir drie jaar.

Vir opsetlike saakbeskadiging kan hy ’n R2 000 boete betaal of drie maande gevangenisstraf uitdien.

Die staat se saak spruit uit ’n voorval op 6 November 2020 toe Du Toit, ’n adjudant-offisier op Wesselsbron, voor die klaer (50) se voertuig stilgehou het, dit versper het en die klaer verhoed het om verder te ry.

‘Offisier het klaer met vuiste geslaan’

Senokoatsane sê die offisier het die sleutels van die klaer se voertuig geneem en hom met die vuiste geslaan. Hy het toe sy vuurwapen uitgehaal, vier skote afgevuur en die slagoffer se foon gebreek.

Die klaer het ’n klagte by die plaaslike polisie ingedien. Du Toit is aangekla van aanranding, die afvuur van ’n vuurwapen in ’n beboude gebied sonder regverdiging, asook opsetlike saakbeskadiging.

“Die staatsaanklaer, Matome Shai, het aangevoer die hof moet dié voorval in ’n ernstige lig beskou,” sê Senokoatsane. “Die beskuldigde, as ’n wetstoepasser, moes beter geweet het, aangesien hy die wet ken en as ’n ervare offisier met die rang adjudant-offisier behoort hy beter op te getree het.”

‘Slegs een uit vier sê polisie tree professioneel op’

Volgens Corruption Watch lui die polisie se gedragskode onder meer dat beamptes:

  • die grondwetlike regte van elke persoon sal handhaaf en beskerm;
  • onkreukbaar, hoflik, eerlik, respekvol, deursigtig en op ’n verantwoordbare wyse sal optree;
  • die magte wat aan hulle toegeken word, verantwoordelik en beheersd sal uitoefen; en
  • aktief sal werk om enige vorm van korrupsie te voorkom en die oortreders daarvan voor die gereg te bring.

Maar, sê die organisasie: “Slegs een uit vier burgers sê die polisie tree oor die algemeen professioneel op, en slegs een uit tien dink die regering doen ’n goeie werk om misdaad te verminder”.

Die NVG hoop dié vonnis sal wetstoepassers daaraan herinner om altyd volgens die wet op te tree aangesien hulle nie bo die wet verhewe is nie.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.