On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Gewese Vrystaat-rugbyspeler versmoor in brand oorsee

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:02 Wed, 09 Oct 2024

Gewese Vrystaat-rugbyspeler versmoor in brand oorsee | News Article
Nicolus en Anke van Eeden. Foto: Facebook

“Van Eeden sou binnekort na Suid-Afrika teruggekeer het vir die geboorte van sy eersteling. Hy en Anke, met wie hy in Februarie getroud is, woon in George.”

’n Voormalige Vrystaatse rugbyspeler, wat sy lewe in Amerika verloor het, sou binnekort pa geword het.

Talle veldbrande het die naweek die weste van Noord-Dakota geteister toe tienduisende hektaar vernietig en verskeie geboue in die slag gebly het.

Nicolus van Eeden (26), wat op ’n plaas in dié deelstaat gewerk het, het Saterdag (5/10) gesterf nadat hy op pad huis toe ’n rookwolk teëgekom het, berig KVLY-TV Fargo.

‘Die boer het hom op die noodlottige dag meermale in die hande probeer kry’

Volgens die Amerikaanse nuuswebtuiste Inforum is Van Eeden vasgevang in een van die brande ’n entjie oos van die dorpie Ray. Iemand anders is volgens dié webtuiste beseer.

Sterk winde en droë toestande het die brande vererger.

Die boer en sy gesin vir wie Van Eeden gewerk het, het hom op die noodlottige dag meermale sonder sukses in die hande probeer kry terwyl brande in die weivelde naby Ray gewoed het.

Nicolus en Anke van Eeden op hul troudag vroeër vanjaar. Foto: Facebook

KVLY-TV Fargo sê ’n brandbestryder het op Van Eeden afgekom en ’n ambulans ontbied, maar Van Eeden is in die hospitaal oorlede. Die patoloog het bevestig dat Van Eeden aan rookinaseming gesterf het, met geen brandwonde aan sy lyf nie.

Van Eeden sou binnekort na Suid-Afrika teruggekeer het vir die geboorte van sy eersteling. Hy en Anke, met wie hy in Februarie getroud is, woon in George, sê die Facebook-gebruiker, Brittany Grindy Wolla.

‘Ek was so opgewonde om jou saam met jou kind te sien’

Van Eeden se pa, Johan, het Maandag (7/10) op Facebook geskryf dat sy vrou, Rozanne, ’n oproep ontvang het wat geen ouer ooit wil kry nie: Nicolus het in ’n brand in Noord-Dakota omgekom.

“My seun,” skryf hy, “jy was een uit ’n duisend. Jy en Anke het so ’n innige liefde gedeel. Ek was so opgewonde om jou saam met jou kind te sien.

“Vandag is ons drome verpletter. Maar ons sal opstaan. Jy is nou in Jesus se arms. Dankie dat jy die seun was, wat jy was.”


Jacques Nel, ’n goeie vriend, vertel Van Eeden was eers vir hom net ’n kollega, maar het ’n vriend geword en eindelik soos ’n broer gevoel het. “Hy was die soort ou wat altyd moeite gedoen het om die werk gedoen te kry. 

“Selfs wanneer ek dit rustig wou neem, het hy my gedruk en gesê: ‘Nee, man, kom ons kry dit gedoen.’ Hy was my steunpilaar hier. Noudat hy weg is, is dit moeilik.”

Van Eeden, wat op 20 Januarie 26 geword het, het in 2016 aan die Hoër Landbouskool Oakdale gematrikuleer en op sy dag onder meer vir die Vrystaat se o.19-span en die Vrystaat se XV uitgedraf.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.