On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Ma een van verdagtes wat Bloemfonteinse kleuter wreed aanrand

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:40 Thu, 03 Oct 2024

Ma een van verdagtes wat Bloemfonteinse kleuter wreed aanrand | News Article
Foto: iStock

“Die kind se beserings was so ernstig, dat die oorspronklike klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer na poging tot moord verander is.”

Vier verdagtes sal in aanhouding bly en na verwagting weer op Maandag (8/10) in die hof verskyn vir ’n borgtogaansoek weens ’n beweerde aanranding op ’n kleuter.

Die verdagtes het Donderdag (3/10) vlugtig in die hof verskyn op aanklag van poging tot moord nadat ’n 2-jarige seun glo wreed aangerand is, sê Loraine Earle, polisiewoordvoerder. Nog ’n manlike verdagte, ’n gesinslid, word steeds deur die polisie gesoek.

“Die kind se beserings was so ernstig, dat die oorspronklike klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer na poging tot moord verander is.” 

Foto: Bloemfontein Courant

Volgens Earle ondersoek die Parkweg-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe tans die saak. Die voorval het op 22 September 2024 plaasgevind toe die seun omstreeks 08:40 na die Pelonomi-hospitaal geneem is en die polisie ontbied is om te help.

“Die kind se ma (34), haar kêrel (25), en ’n vriend van die ma (35), saam met sy verloofde (40), is op die toneel in hegtenis geneem. Die verdagtes, almal tussen die ouderdomme van 24 en 40, het ’n huis met die slagoffer en sy ma gedeel.”

Earle sê die kind is in ’n stabiele toestand en sterk aan by ’n plek van veiligheid. Die verdagtes sal in aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning.

Die tweejarige Chevonne. Foto: Facebook

Rochelle Botha (24) en haar voormalige verloofde, Stefan van Niekerk, is in April vanjaar gevonnis vir die grumoord op Botha se kind, die 2-jarige Chevonne Rusch. Chevonne het 49 kneusplekke en beserings opgedoen, en die oorsaak van haar dood is vasgestel as erge trauma aan haar skedel.

Botha en Van Niekerk is elk 25 jaar tronkstraf opgelê vir aandadigheid aan verkragting en moord, saam met ’n bykomende vyf jaar vir seksuele aanranding. Hulle het ook tien jaar elk ontvang vir twee aanklagte van kindermishandeling, en tien jaar vir poging tot moord.

Alle vonnisse moet gelyktydig uitgedien word, wat beteken dat hulle effektief 25 jaar agter tralies sal deurbring. Die twee is in November verlede jaar skuldig bevind op aanklagte van moord, kindermishandeling, poging tot moord en verkragting.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.