On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Aankoop van nuwe voertuie in Vrystaat is klap in die gesig

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:49 Wed, 02 Oct 2024

Aankoop van nuwe voertuie in Vrystaat is klap in die gesig | News Article
Armand Cloete. Foto: X

“Vrystaters gaan gebuk onder swak dienslewering, tog word geld aan voertuie bestee. Die VF Plus in die Vrystaatse wetgewer het vrae aan Mathae gestel en haar gedruk om die koste van die voertuie bekend te maak en of daarvoor begroot is.”

Die luukse voertuie wat oornag in die ‘bankrot’ Vrystaat gekoop is, is ’n blatante belediging. 

So sê Armand Cloete, VF Plus, nadat Vrystaatse premier, Maqueen Letsoha Mathae, tien nuwe voertuie vir tradisionele leiers in die provinsie gekoop het.

“Vrystaters gaan gebuk onder swak dienslewering, tog word geld aan voertuie bestee,” merk Cloete op. Die VF Plus in die Vrystaatse wetgewer het vrae aan Mathae gestel en haar gedruk om die koste van die voertuie bekend te maak en of daarvoor begroot is.

Armand Cloete. Foto: X

Cloete sê die Vrystaat se finansies is reeds onder geweldige druk is. “Die provinsiale tesourie het Donderdag die openbare rekeningkomitee ingelig dat die departemente van onderwys en gesondheid reeds in die eerste kwartaal hul begrotings oorskry het weens oorbesteding aan salarisse vir mediese personeel en onderwysers.”

Hy wys verder daarop dat dit algemeen bekend is dat provinsies, veral die Vrystaat, sal sukkel om onderwysposte te behou weens ’n nasionale tekort aan opvoeders.

“Ondanks onlangse kostebesnoeiingsmaatreëls van die provinsiale tesourie, ag die premier dit steeds belangriker om voertuie vir tradisionele leiers aan te koop,” sê Cloete.

‘Niks meer as politieke omkopery nie’

Intussen sukkel die Vrystaatse wetgewer om fondse van die provinsiale tesourie te bekom om sy toesighoudende verantwoordelikhede doeltreffend uit te voer.

Cloete voeg by: “Hierdie voertuie kom neer op niks meer as politieke omkopery nie, wat staatsfondse gebruik om ’n sukkelende ANC in landelike gebiede te ondersteun.”

Verlede week het die minister van basiese onderwys gewaarsku dat provinsiale onderwysdepartemente teen 2027 ’n begrotingstekort van tussen R79 miljard en R118 miljard in die gesig sal staar, wat duisende onderwysposte ingevaar sal stel.

Provinsiale onderwysdepartemente het in Augustus hul sake aan die parlementêre komitee vir basiese onderwys voorgelê. Dit het duidelik geword dat al nege provinsies binne die volgende twee tot drie jaar beduidende uitdagings in die gesig sal staar om bestaande posisies en programme onder die huidige begrotingstoekennings te handhaaf.

Dit is deels te wyte aan groot besnoeiings in befondsing van die nasionale tesourie oor die volgende drie jaar.

In Noordwes het die departement R485 miljoen nodig om aan volgende jaar se begroting te voldoen, terwyl die Vrystaat nog wag op goedkeuring vir R500 miljoen se uitgawes vir die huidige boekjaar.

‘Dit bly ons prioriteit om die werk van ons opvoeders te beskerm’

Dr. MJ Maboya, LUR vir onderwys, sê dat die Vrystaat geen afleggings beplan nie.

“Hoewel ons finansiële uitdagings in die gesig staar, bly ons prioriteit om die werk van ons opvoeders te beskerm en te verseker dat elke leerder in die Vrystaat toegang het tot gehalte-onderrig,” sê hy.

Die provinsie beoog om bestuursuitgawes te verminder deur onnodige administratiewe koste te besnoei, “sonder om die gehalte van onderwys in die klaskamer te verminder.”

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.