On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Verdagtes ‘sing soos kanaries’ in Alize-ontvoeringsaak

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:56 Wed, 02 Oct 2024

Verdagtes ‘sing soos kanaries’ in Alize-ontvoeringsaak | News Article
Die foto van Alize van der Merwe wat aan die polisie gestuur is. Foto: André Snyman.

“Die deurbraak het gekom nadat die ondervraging van die twee vroue gelei het tot die ontdekking van ’n selfoonnommer. Dié nommer het verskyn op ’n foto wat Van der Merwe se ontvoerders aan die owerhede gestuur het as bewys dat sy lewe.”

Twee verdagtes is Dinsdag (1/10) in hegtenis geneem in verband met die ontvoering van ’n vrou van Kaapstad. 

Volgens André Snyman, private ondersoeker, is die verdagtes glo gehuur om toesig te hou oor Van der Merwe. Die finansiële ontleder is ontvoer terwyl sy op pad was na die Umngazi-vakansieoord, sowat 20 kilometer suid van Port St. Johns.

Die ontvoering volg op die vroeëre kaping en ontvoering van Tian Xiaomei (34) op 17 September, tussen Barkly-Oos en Khowa (Elliot). Xiaomei se Mercedes-Benz Vito is nog nie gevind nie.

Alize van der Merwe. Foto: Facebook

OFM Nuus het vroeër berig Van der Merwe en Xiaomei is Donderdag (24/9) omstreeks 12:15 by die Sulenkama-polisiestasie, sowat 30 kilometer van Qumbu, afgelaai. Die polisie was aanvanklik onbewus van Xiaomei se ontvoering, het ao. Ndiphiwe Mhlakuvana, Valke-woordvoerder, voorheen aan OFM Nuus gesê.

Volgens Snyman het die deurbraak in die ondersoek gekom nadat die ondervraging van die twee vroue gelei het tot die ontdekking van ’n selfoonnommer. Dié nommer het verskyn op ’n foto wat Van der Merwe se ontvoerders aan die owerhede gestuur het as bewys dat sy lewe.

Tydens hul ondervraging het hulle soos kanaries gesing, sê Snyman.

“Die selfoonnommer en boodskappe van die vermeende baasbrein agter die ontvoering was sigbaar op die skermskoot. Toe die polisie die eienaar van daardie nommer opgespoor het, het hy per ongeluk kritieke inligting bekend gemaak, wat uiteindelik gelei het tot die vroue se vrylating.”

Die Toyota Fortuner waarin Alize van der Merwe gereis het. Foto verskaf

Die operasie om die twee vroue te red het gespanne geraak toe lede van die polisie se taktiese reaksiespan (TRT) op intelligensie opgetree het en op ’n huis in Keiskammahoek toegeslaan het, wat ’n hewige skietgeveg tot gevolg gehad het. Hierdie beslissende optrede het aansienlik bygedra tot die suksesvolle vrylating van Van der Merwe en Xiaomei.

Verslae dui daarop dat geen losprys uiteindelik betaal is nie. Die Valke het egter vroeër bevestig dat ’n lospryseis kort ná Van der Merwe se ontvoering gemaak is, met die ontvoerders wat tussen R3 miljoen en R4 miljoen vir haar vrylating soek.

’n Egpaar van die Wes-Kaap, wat glo by Van der Merwe se ontvoering betrokke is, het reeds in die Nxuba-landdroshof (Cradock) verskyn op aanklagte van voertuigdiefstal en die besit van gesteelde eiendom. Die Toyota Rumion waarin hulle aangekeer is, is glo gekaap.

Die verdagtes, onderskeidelik 36 en 41 jaar oud, is steeds in aanhouding, sê Luxolo Tyali, die Nasionale Vervolgingsgesag se streekwoordvoerder (NVG).


“Die egpaar is in Nxuba in die Oos-Kaap in hegtenis geneem nadat die polisie bewyse ingesamel het wat hulle met Van der Merwe se ontvoering verbind.”

Volgens Tyali sal nog ’n verdagte, wat tydens die polisie se skietgeveg by ’n huis in Keiskammahoek beserings opgedoen het, na verwagting ook saam met die egpaar in die hof verskyn.

Vier individue is tydens die konfrontasie met die polisie in Keiskammahoek doodgeskiet.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh/cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.