On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Navorsing volg ná ontwrigtende sneeustorm

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:15 Tue, 01 Oct 2024

Navorsing volg ná ontwrigtende sneeustorm | News Article
Swaar sneeuval het boere in die Harrismith-distrik genoop om op te tree as reddingswerkers. Foto: Sanral

“Individue wat direk deur die sneeustorm geraak is, veral diegene wat in die sneeu gestrand was, se insette word benodig.”

Ná die onlangse sneeustorm wat groot dele van Sentraal-Suid-Afrika bedek het en erge ontwrigting oor die Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap veroorsaak het, is navorsing nou aan die gang om ramprisiko’s te bepaal.

Die storm, wat tot aansienlike verkeersknope en padsluitings gelei het, het twee professore van die Noordwes-Universiteit genoop om vroeë waarskuwings vir natuurlike gevare te ondersoek.

Professore Dewald van Niekerk en Rudolf Burger soek insette van individue wat direk deur die sneeustorm geraak is, veral diegene wat in die sneeu gestrand was.

Nóg paaie in Sentraal-Suid-Afrika weens sneeu gesluit – VIDEO, FOTO’S | News Article

Motoriste word versoek om reisplanne uit te stel. Foto: X

“Ons navorsing fokus op klimaatverwante gevare en die abnormale weergebeure wat ons aanskou,” sê Van Niekerk, hoof van die African Centre for Disaster Studies. “Ons stel veral belang in hoe vroeë waarskuwingsboodskappe geskep, versprei en deur die publiek ontvang word.”

Van Niekerk sê die primêre doel van hul studie is om te evalueer of huidige kommunikasiekanale vir sulke waarskuwings doeltreffend en duidelik is. “Ons wil kyk of die waarskuwings lei tot optrede wat help om risiko’s te verminder en maniere te verken om die stelsel te verbeter sodat dit meer toeganklik vir almal is. Hierdie navorsing is deel van ’n breër projek genaamd ‘The Improved Messaging for Early Warning and Resilience’.”


Een van die sleutelgebiede wat geraak is, was die N3 by Van Reenenspas, wat gedurende die naweek van 21 September gesluit was weens gevaarlike toestande, insluitend swart ys. Volgens die African Transformation Movement (ATM) was meer as 1 800 voertuie op die N3 gestrand, en twee mense het  hul lewens weens die ysige toestande verloor.

Francois Wilken, Vrystaat Landbou voorsitter, het die verlies van tussen 1 300 en 1 500 skape in die Smithfield-distrik weens die erge koue aangemeld.

Intussen was 107 Vrystaatse skoolkinders en 19 onderwysers in hul bus naby Durban gestrand toe hulle van ’n skooltoer teruggekeer het. Gelukkig kon die onderwysers en leerlinge van die Laerskole Qwabi en Phomolong in Qwaqwa Sondag veilig terugkeer huis toe.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.