On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-verhuurder in hof vir moord

───   ZENANDE MPAME 16:35 Mon, 30 Sep 2024

Noordwes-verhuurder in hof vir moord | News Article
Paul Badenhoorst. Foto: SAPD

“Die polisie het ook ’n vuurwapen gevind waarop daar ballistiese toetse gedoen sal word.”

’n Hartbeespoortdam-verhuurder (72) sal na verwagting in die Brits-landdroshof verskyn nadat hy daarvan aangekla is dat hy sy huurder tydens ’n rusie doodgeskiet het. 

Paul Badenhorst sal Vrydag (4/10) vir psigiatriese waarneming verskyn. Hy is borgtog geweier en het in aanhouding gebly nadat hy die afgelope Vrydag vir ’n formele borgaansoek verskyn het. 

Hy het na bewering vir Frederick Knoetze (66) in die kop geskiet nadat laasgenoemde hom genader het omdat sy elektrisiteit- en watertoevoer afgesny is. Badenhorst is laat Sondag in hegtenis geneem nadat hy van die toneel af gevlug het.


“Knoetze het sy verhuurder genader toe hy ontdek het dat sy huis nie elektrisiteit of water het nie. Ná ’n onderonsie tussen die twee het die verhuurder sy huis binnegegaan en teruggekeer met ’n vuurwapen,” sê Adelé Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder.

“Badenhorst het na bewering die slagoffer in sy bolyf geskiet en van die toneel gevlug, terwyl Knoetze hospitaal toe geneem is. Hy is met sy aankoms dood verklaar.” 

Kormorant berig dat die Knoetze-egpaar Badenhorst genader het. Hy het homself in sy huis toegesluit. Knoetze het gebel en aan die veiligheidshek gerammel om sy aandag te trek waarna Badenhorst met ’n vuurwapen by die deur verskyn het en vir Knoetze gesê het dat hy hom gaan skiet. Die volgende oomblik het hy ’n skoot afgevuur.

Frederick Knoetze (66). Foto: kormorant.co.za

“My man het op die grond geval. Sy kop was vol bloed. Die landlord het gesê ek moet hardloop, hy gaan my ook skiet,” vertel Marilize Knoetze. “Ek het na die motor gehardloop en ek en my seun het my man in die motor gesit en met hom na die hospitaal in Brits gejaag waar hy dood verklaar is.”

“Die polisie is na die toneel ontbied. Met hul aankoms het die verdagte gevlug. Hy is in hegtenis geneem tydens ’n intelligensie-gedrewe operasie in die Skeerpoort-omgewing,” sê Amanda Funani, Noordwes-polisiewoordvoerder.

“Die polisie het ook ’n vuurwapen gekry wat aan ballistiese toetse onderwerp sal word.”

OFM News/Zenande Mpame mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.