On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Troosdiens Donderdag gehou vir Bloemfonteinse atleet wat in Oos-Kaap verkluim

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:38 Mon, 30 Sep 2024

Troosdiens Donderdag gehou vir Bloemfonteinse atleet wat in Oos-Kaap verkluim | News Article
Charmaine van der Walt. Foto verskaf

“Dit was duidelik in die wedloop – sy wou nie ophou nie. Sy wou die wedloop klaarmaak,”

Die langafstandatleet van Bloemfontein wat Saterdag (28/9) dood is tydens ’n bergwedloop in die Oos-Kaap se begrafnis sal Donderdag (3/10) gehou word.

Charmaine van der Walt (65) het in die ysige toestande verkluim, sê Ernest Kemm, haar skoonseun. Baie deelnemers het in die 30ste Lammergeyer-bergwedloop omgedraai en in motors langs die pad geklim omdat die sig te swak was om verder te hardloop.  

Van der Walt is bekend vir haar deursettingsvermoë en was egter vasbeslote om deur te druk, sê Kemm. Dié ervare atleet het tydens die bergwedloop verdwaal en hoog in die berge naby Lady Grey beland. Sy het vroeër in die wedloop haar warm baadjie vir 'n ander atleet gegee.

’n Deel die Lammergeyer-bergwedloop se roete. Foto: Facebook

Sy het vir die nag skuiling onder ’n krans gesoek, maar haar liggaam is Sondag ná ’n uitgebreide soektog gekry.

Van der Walt se dogter, Desirée Kemm, en Ernest, woon in Bloemfontein. Volgens hom het sy voorheen die 24 km-wedloop voltooi en het toe selfs met 'n kierie gehardloop weens 'n kuitbesering.

“My skoonma het nie haar selfoon by haar gehad nie en haar slimhorlosie, toegerus met GPS, het nie gefunksioneer nie.” Die amptelike afsnytyd vir die wedloop was Saterdag om 12:00. Terwyl twee deelnemers aanvanklik vermis geraak het, is een later gevind. Van der Walt was steeds vermis.

“Die weer het onverwags gedraai en toestande op die berg het uiters koud en winderig geword. Digte mis het sigbaarheid verder verminder wat dit moeilik gemaak het om op koers te bly. Ongelukkig het die atleet van die roete afgedwaal en in die digte mis verdwaal,” sê Pieter du Preez, organiseerder van die Lammergeyer-bergwedloop.

Charmaine van der Walt. Foto verskaf

Daar is dadelik met ’n soektog begin en inwoners wat vertroud is met die gebied het te voet in die reën en mis na haar gesoek, sê hy. ’n Private helikopter en hommeltuie is ook in die soektog gebruik. 

Volgens du Preez het AfriForum en lede van die gemeenskap infrarooi- en termiese beeldtoerusting gebruik en die soektog deur die nag voortgesit. 

Van der Walt het Donderdagaand voor haar vertrek by haar dogter en skoonseun gaan koffie drink. “Sy was baie opgewonde om haar twee kleinkinders, Erik (2) en Henru (ses maande) te sien. “Sy het gelewe vir haar kiinders en kleinkinders,” sê Ernest.

‘Almal was so lief vir haar’

Van der Walt van Langenhovenpark, Bloemfontein, word as ’n vasberade vrou beskou. “Dit was duidelik in die wedloop – sy wou nie ophou nie. Sy wou die wedloop klaarmaak,” sê Ernest, ’n Suid-Afrikaanse krieketspeler.

“Sy was ‘n fantasiese ma vir Desirée, en was altyd daar om met haar kleinkinders te help wanneer ek weg was op toere.  Desirée kan haar nie die lewe sonder haar ma voorstel nie. Almal was so lief vir haar."

Van der Walt het vir Farmovs by die Universiteit van die Vrystaat gewerk. Hoewel sy verlede jaar moes aftree het sy besluit om nog twee jaar op kontrak te werk. Sy word Donderdag  om 11:00 vanuit die NG Langenhovenpark begrawe.

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.