On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse uitsmyters se saak na streekhof oorgeplaas

───   HEIDRÈ MALGAS 07:00 Thu, 26 Sep 2024

Bloemfonteinse uitsmyters se saak na streekhof oorgeplaas | News Article
The Other Venue. Foto: Gypseenia Lion

“Daar kan gesien word hoe die slagoffer geskop en met sy kop op die teer oor die pad gesleep word.”

Die drie uitsmyters van ’n kuierplek in Bloemfontein wat na bewering ’n klant vermoor het, moet weer op 13 November in die hof verskyn. Dit sal hul eerste verskyning in die streekhof wees.

Mpho Kedumetse Mphepuka (18), Simphiwe (Gorilla) Dlabu (27) en Justin Ayanda Horn (36) het op 5 Augustus in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn en elk is borgtog van R2 000 toegestaan omdat hulle geen vorige oortredings het nie.

Die liggaam van die oorledene (43) is Maandag 22 Julie in die parkeerterrein oorkant The Other Venue in Tweedelaan, Westdene, gevind.

Die man se liggaam is in die parkeerterrein oorkant die kuierplekke ontdek. Foto verskaf

Video’s op sosiale media wys hoe mans ’n ander man in Tweedelaan aanval. Daar kan gesien word hoe die slagoffer geskop en met sy kop op die teer oor die pad gesleep word. Sy aanvaller het ook op hom gespring. Hy is daarna na die oop parkeerterrein gesleep.

Die Vrystaatse Dobbel-drank-en-toerismeraad het die kuierplek naby die toneel waar die man in Julie aangerand is, se lisensie tydelik opgeskort. Die kuierplek het Donderdag (22/8) heropen.

“Ná ’n omvattende ondersoek deur die Vrystaatse Dobbel-drank-en-toerismeraad is bevind dat The Other Venue aan al die vereistes voldoen van sy dranklisensie en daarom sal handelsure terugkeer na die oorspronklik ure (kragtens sy) dranklisensie,” luidens ’n verklaring van dié kuierplek.

Tweedelaan is bekend vir sy kuierplekke. Foto: Bloemfontein Courant

Mphepuka is in Maart as veiligheidswag by The Other Venue aangestel. Sy regsverteenwoordiger beweer hy het probeer om die aanranding te keer.

Dlabu is sedert 2020 ’n veiligheidswag by die onderneming en Horn werk deeltyds daar as ’n veiligheidswag. Dlabu is nie seker van sy werk nie, omdat hy nog nie met sy werkgewer gepraat het nie. Hy het homself aan die polisie oorgegee op die dag van sy inhegtenisneming op advies van ’n prokureur.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.