On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Duineveld-leerder moontlik geskors ná rassistiese video

───   HEIDRÈ MALGAS 12:01 Fri, 20 Sep 2024

Duineveld-leerder moontlik geskors ná rassistiese video | News Article
Die Hoërskool Duineveld op Upington. Foto: Google Maps

“ ’n Aanbeveling is aan die departement voorgelê vir die skorsing van die leerder. Die ander drie leerders het ’n finale geskrewe waarskuwing ontvang, geldig vir 12 maande.”

Die Hoërskool Duineveld op Upington het ’n leerder skuldig bevind aan rassisme nadat ’n video, waarin hy die k-woord teenoor ’n mede-TikTok-gebruiker uiter, wyd op sosiale media gedeel is.

“ ’n Aanbeveling is aan die departement voorgelê vir die skorsing van die leerder. Die ander drie leerders het ’n finale skriftelike waarskuwing gekry, geldig vir twaalf maande,” sê Geoffrey van der Merwe, provinsiale onderwyswoordvoerder.

“Die tugverhoor van vier leerders van die Hoërskool Duineveld het Dinsdag (17/9) plaasgevind en strafmaatreëls is teen die betrokke leerders ingestel.”

Die onderwys-LUR Abraham Vosloo. Foto verskaf

Ná die voorval is vyf klagte teen elke leerder ingedien volgens die volgende regulasies: die SA Skolewet 84 van 1996, Kantoorkennisgewing 10 van 2007, en die gedragskode van die Hoërskool Duineveld.

Van der Merwe sê die leerders moet ook professionele berading ontvang oor rasseverhoudinge, konflikbestuur, maatskaplike samehorigheid en die gebruik van sosiale media. ’n Verslag moet teen 30 November by die skool ingedien word.

OFM Nuus het voorheen berig ’n herrie het losgebars oor ’n TikTok-video waarin ’n hoërskoolseun van Upington ’n onbekende sosialemediagebruiker die k-woord noem.

Die seun in die video is geïdentifiseer as ’n leerder aan die Hoërskool Duineveld, volgens Brandon Geswindt, adjunkkoördineerder van die ANC-Jeugliga in die ZFM-streek, aan wie die seun se naam ook bekend is. Die seun kan ook gehoor word hoe hy ’n skeldnaam vir Amerikaanse swart mense gebruik.

“Die Noord-Kaapse onderwysdepartement het die voorval ten sterkste veroordeel en het die Hoërskool Duineveld aangesê om die nodige tugstappe te doen kragtens die skool se gedragskode,” sê Van der Merwe. 

Skermgreep van TikTok-video. 

Siphokazi Pappagai, ’n sosialemediagebruiker wat volgens haar Facebook-profiel ook in die Hoërskool Duineveld was, sê in sosialemediakommentaar onder die video: “Uit persoonlike ondervinding weet ek hoe dit toegesmeer word. Ek is net bly daar is bewyse van sy gedrag. Daar moet ’n duidelike voorbeeld van hom gemaak word.”

Pappagai het in 2020 op haar Facebook-blad ook gepraat oor die rassisme wat by skole toegesmeer word. In die plasing sê sy: “Ek is in daardie skool deur meeste van die wit onderwysers op neergesien omdat ek altyd my mening uitgespreek het en nie vir hul mishandeling geswig het nie.”

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.