On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Meenthuiskomplekse in noorde van Bloemfontein ál meer geteiken

───   HEIDRÈ MALGAS 10:00 Tue, 17 Sep 2024

Meenthuiskomplekse in noorde van Bloemfontein ál meer geteiken | News Article
Die items wat die meeste gesteel word, is hekmotors. Foto: MyBroadBand

“Inbrake vind tipies plaas tussen middernag en vier-uur die oggend, wanneer die meeste mense diep aan die slaap en onaktief in hul huise is.”

Die noordelike voorstede van Bloemfontein gaan gebuk onder ’n toename in huisbrake.

“Van Maart tot nou is 38 voorvalle by ons sekuriteitsmaatskappy, wat in en om die area patrolleer, aangemeld,” sê Dylan Coetzee, operasionele bestuurder by Bloemsec, ’n plaaslike sekuriteitsfirma. “Daar was 17 diefstalle, vier gewapende rooftogte, vyf pogings tot inbrake en twaalf huisrooftogte.”

Negentien van die inbrake was by wonings en die ander helfte by sakepersele, sê Coetzee. “Die algemeenste gesteelde items is hekmotors. Dit gebeur gewoonlik in die nag wanneer die hek nie gereeld gebruik word nie. Inbrake vind tipies plaas tussen middernag en vier-uur soggens, wanneer die meeste mense vas aan die slaap en onaktief in hul huis is.”


’n Geskatte 238 000 gevalle van huisrooftogte het in 2022/23 voorgekom, wat 1,0% van alle huishoudings in die land verteenwoordig. Grafiek: Stats SA

Meenthuiskomplekse in die noorde van die stad loop veral deur omdat misdadigers die sekuriteitsmaatreëls bestudeer. Hulle oorweeg faktore soos of die kompleks dag en nag wagte en kameras het en of die eenhede in die kompleks individuele alarms het.

Inbrake by komplekse word dikwels voorafgegaan deur noukeurige beplanning weens die teenwoordigheid van ’n groot aantal inwoners en sekuriteitsmaatreëls, verduidelik Coetzee.

‘Kameras kan indringers afskrik voordat hulle jou eiendom betree’

Hy raai inwoners aan om hul sekuriteitsmaatskappy deeglik te evalueer. Neem nie net hul dienste in ag nie, maar ook hoe vinnig hulle reageer, hoe sigbaar hulle in jou buurt is en hoe gereeld hulle patrolleer, is sy raad. 

“Dit is altyd belangrik om jou huis se veiligheid te verbeter. ’n Basiese alarmstelsel kan doeltreffend wees, veral as dit gekoppel is aan jou gewapendereaksiediens. Kameras is noodsaaklike hulpmiddels: Hulle kan óf jou sekuriteitsfirma waarsku of indringers afskrik voordat hulle jou eiendom betree.”

Inbrake vind tipies plaas tussen middernag en vieruur soggens. Foto: BusinessTech

Inbrekers se gewildste modus operandi by sakepersele is om toegang deur die dak te verkry en die alarmstelsel te ontkoppel, vertel Coetzee. In woongebiede is daar geen algemene patrone nie. “Ons het egter ’n beduidende toename in hekmotordiefstal gedurende die vroeë oggendure opgemerk.”

Buurtwagte is nuttig en suksesvol, maar hulle is nie ’n plaasvervanger vir die polisie nie. “Buurtwagte help tipies deur die sekuriteitsmaatskappye en die polisie se hulp te ontbied. Hoe meer oë en beweging van sekuriteitsmaatskappye en buurtwagte, hoe beter,” sê Coetzee.

‘Misdadigers vermy oor die algemeen goed beligte gebiede’

’n Belangrike veiligheidsmaatreël waarvan baie mense vergeet , is die belangrikheid van beligting om die omgewing se veiligheid te verbeter. “Misdadigers vermy oor die algemeen goed beligte gebiede. Effektiewe beligting, veral bewegingsensorligte, kan potensiële indringers laat skrik en afskrik sodra hulle geaktiveer word.”

Volgens MyBroadband  is die beste maniere om ’n inbraak te voorkom, onder meer die aanhou van klein hondjies binne jou huis, die installering van elektriese heinings, alarms en veiligheidsensors, asook die gebruik van ’n gewapendereaksiediens.

As jy ’n slagoffer van ’n misdaad is, is dit noodsaaklik om die voorval by die naaste polisiekantoor aan te meld, 08600 10111 te bel of 10111 in noodgevalle. Hierdie diens is 24 uur per dag beskikbaar.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.